|

Parys-waterkrisis: AfriForum-tak bring PAIA-aansoek oor aangestelde kontrakteurs

AfriForum se Parys-tak het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit ingedien om inligting te bekom oor die kontrakteurs wat aangestel is om dié munisipaliteit se waterwerke op te gradeer en ’n kragopwekker te installeer. Albei kontrakteurs moes reeds verlede Maandag (2 Oktober) met die opgradering en installering begin het, maar tot dusver is daar nog geen werk gedoen nie. Die munisipaliteit het 30 dae om op AfriForum se aansoek te reageer.

Dit het onder AfriForum se aandag gekom dat die kontrakteur wat vir die waterwerke aangestel is, nie in staat daartoe is om die werk te doen nie en nou ’n subkontrakteur aangestel het. Dit is onaanvaarbaar dat persone aangestel word wat nie toegerus is om die projek te doen nie en daarom meen AfriForum moes die PAIA-aansoek ingebring word. Daarin word gevra hoe die tenderproses verloop het, wat die kontrakteurs se kwalifikasies is en of hulle behoorlik by die betrokke professionele verenigings geregistreer is.

“Ons doen hierdie aansoek omdat dié munisipaliteit berug is daarvoor dat dit onbevoegde mense aanstel. Dit het al dikwels daartoe gelei dat die werk nie gedoen word nie en is ’n belangrike rede vir die geweldige waterkrisis wat Parys nou ondervind. Ons wil hierdeur ons gemeenskap beskerm en die munisipaliteit dwing om die regte mense aan te stel sodat die werk nie, soos tans die geval is, oor en oor gedoen moet word en die gemeenskap steeds sonder water gelaat word nie. AfriForum steek egter ook ’n helpende hand uit na die munisipaliteit en kan die munisipaliteit dadelik van kundigheid voorsien,” sê Schalk Burger, Parys-takvoorsitter.

“Die gemeenskap van Parys is vuisvoos. Geen mens kan sonder water nie. Die munisipaliteit het nou reeds bewys dat hulle onbevoeg is en dus stel hulle ook onbevoegde mense aan om bepaalde werk te doen. Dis tyd dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit doen waarvoor hulle betaal word,” eis Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak. Kontak Schalk Burger by 081 392 2071om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings