|

AFRIFORUM SE MORELETAPARK-TAK HOU SIGBAARHEIDSPATROLLIE

AfriForum se Moreletapark-tak en die Grootfontein-buurtwag het in samewerking met verskeie ander rolspelers op 2 Februarie ’n sigbaarheidsoperasie in Moreletapark en omliggende gebiede gehou.

Die operasie se primêre doel was om sigbaarheid te verbeter en eenheid te toon tussen die verskillende rolspelers. Sigbaarheid is belangrik om misdadigers af te skrik en hoe meer sigbaar ’n buurtwag is, hoe veiliger voel die gemeenskap. Altesaam 19 patrolleerders in nege voertuie het deelgeneem. Die operasie is tussen 18:30 en 21:00 gehou.

“Sigbaarheid is vir ons baie belangrik en dit dra by tot ’n veiliger omgewing. Ons wil graag elke patrolleerder en elke organisasie bedank wat gehelp het om die patrollie ’n sukses te maak,” sê Dewald la Grange, voorsitter van AfriForum se Moreletapark-tak.

“Die inisiatief wat hier deur verskeie rolspelers gebruik is om mense te mobiliseer en saam misdaad te beveg is weer eens ’n bewys van wat gemeenskappe alles kan vermag as hulle saamstaan. AfriForum sal aanhou om gemeenskappe te ondersteun en te help om ’n beter omgewing vir elkeen te skep,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan om vanjaar verskeie groot projekte aan te pak en wil graag die gemeenskap uitnooi om meer betrokke te raak. Besoek gerus die AfriForum-tak in Moreletapark se Facebook-blad en sluit ook by die Telegram-groepe aan.

Raak vandag nog by AfriForum se Moreletapark-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Moreletapark” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings