|

Nuuskommentaar: Lang, uitmergelende stryd om privaat eiendomsreg te beskerm duur voort

Die ANC is vasbeslote om diefstal van eiendom deur die regering moontlik te maak in Suid-Afrika en hulle is bereid om enige skelmstreek te gebruik om hul doelwitte te bereik. Die stryd om hierdie donker droom teen te staan, duur egter al vir jare en ’n mens raak maklik verlore in die verskeie gebeure op hierdie tydlyn.

In 2021 het die hoof poging deur die ANC om privaat eiendomsreg te vernietig, misluk. Dit het die wysiging aan Artikel 25 van die Grondwet behels om voorsiening te maak vir die onteiening van privaat eiendom sonder vergoeding. Dit het egter nie in die parlement geslaag nie aangesien die ANC nie die nodige tweederde meerderheid stemme kon kry wat hulle nodig gehad het nie.

Die hoofrede waarom die wysiging nie geslaag het nie, was dat die EFF geëis het dat die wysiging volle staatsbesit van eiendom moontlik moet maak, terwyl die ANC voorgestel het dat staatsbesit van toepassing sal wees op “sekere grond” binne die konteks van onteiening. Dus was hierdie wysiging, volgens die EFF, nie radikaal genoeg nie. Dit is ook hoogs waarskynlik dat die EFF hierdie kaart gaan speel in moontlike koalisiepolitiek ná die 2024-verkiesing.

Ten spyte van hierdie mislukte poging, het president Cyril Ramaphosa in 2022 verklaar die ANC sal voortgaan met sy planne om onteiening sonder vergoeding in te stel.

In Desember 2021 het Ronald Lamola, Minister van Justisie, gesê: “Om die Grondwet te verander was net een instrument wat ons kon gebruik het … Die saak is nou beëindig. Ons sal nou ons gewone meerderheid gebruik om wette in plek te stel wat onteiening sonder vergoeding sal toelaat.”

Die Onteieningswetsontwerp is in 2020 in die Staatskoerant gepubliseer en dit is sedertdien as deel van die parlementêre proses ingestel. Dit is ’n perfekte voorbeeld van ’n alternatiewe pad wat die ANC probeer om onteiening sonder vergoeding te laat realiseer. Dié wetsontwerp maak die onteiening van enige “eiendom” moontlik en is dus nie beperk tot grond nie, maar sluit alle roerende eiendom, soos ’n persoon se besittings, sowel as onroerende eiendom, soos geboue en huise in. Hierdie wetsontwerp vloei nie voort uit die proses om Artikel 25 van die Grondwet te wysig nie. Dit poog om ’n nuwe weg te baan vir die regering om privaat eiendom binne die huidige raamwerk van Artikel 25 van die Grondwet te onteien.

Die onteieningswetsontwerp dien tans voor die Nasionale Raad van Provinsies vir goedkeuring. Die Nasionale Raad van Provinsies is die finale stap voor die wetsontwerp na die president se lessenaar gestuur word om bekragtig te word as wet.

AfriForum het vandat hierdie ekstremistiese wetsontwerp vir die eerste keer op die tafel geplaas is, dit by elke geleentheid en in elke formaat teëgestaan. As deel van die jongste aksie daarteen, het AfriForum in Maart geskrewe kommentaar ingedien by die Raad van Provinsies. As deel van hierdie fase het die Gautengse Wetgewer se Portefeuljekomitee oor Infrastruktuurontwikkeling en Eiendomsbestuur ’n aparte geleentheid geskep vir publieke kommentare in ’n provinsiale konteks. AfriForum het hier ook sterk geskrewe kommentaar ter verwerping van hierdie wetsontwerp ingedien, asook deelgeneem aan die openbare verhore.

In die verlede is wetsontwerpe gedurende hierdie fase, waar dit na die Raad van Provinsies en die president gestuur word vir goedkeuring, gestuit vanweë openbare of internasionale druk. Dit is noodsaaklik dat die burgerlike samelewing en die publiek elke geleentheid tot ons beskikking ten volle benut om aanvalle op privaat eiendomsreg teen te staan. AfriForum bly vasbeslote om die stryd voort te sit en ’n wakende oog te hou oor enige nuwe pogings wat die ANC probeer.

Wat kan jy doen? Eerstens, ken die feite en staan ferm op teen ondersteuners of regverdigers van staatsdiefstal van eiendom. Maak jouself staatsbestand teen grondgrype deur te verseker dat jou gemeenskap se veiligheids- en sekuriteitstrukture in plek is en dat jy deel vorm van só ’n netwerk soos ’n AfriForum-buurtwag.

Laastens, hou moed en hou koers. Die vyande van vryheid is nie onoorwinlik nie.

Soortgelyke plasings