|

AfriForum lewer kommentaar teen implementering van Bela-wetsontwerp

Verteenwoordigers van AfriForum het op 10 Februarie kommentaar gelewer op die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) tydens die openbare deelname vergadering in Mpumalanga.

Dié konsepwet maak onder meer voorsiening vir magsentralisasie in die hande van provinsiale onderwyshoofde om ’n finale besluit oor skole se toelatings- en taalbeleide te neem. Hierdie mag berus tans by demokraties verkose beheerliggame en nie by die staat nie. 

Die wetgewing sal ook die einde van beheerliggame by skole beteken. Afrikaanse skole doen juis goed omdat ouers wat betrokke is by die skole op die beheerliggaam dien.

“Dit blyk dat die regering meer besorg is oor hoeveel mag hulle het as om te sorg dat skole suksesvol funksioneer. Die voorgestelde wysigings gaan op die ou end die kinders benadeel vir die regering se eie gewin,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld in Mpumalanga.

Die organisasie het voorts sy kommer uitgespreek dat die openbare vergaderings uitsluitlik in afgeleë, ontoeganklike areas gehou word waar die skole wat die meeste deur hierdie wetsontwerp geraak sal word nie eens verteenwoordig word nie.

“Ons kan nie toelaat dat kinders te nagekom word as gevolg van ’n regering se magsbeheptheid nie. Juis daarom sal ons aanhou om ons kommer oor hierdie omstrede wetsontwerp uit te spreek,” sluit Bekker af.

Sluit by jou naaste tak aan om saam te help om ’n verskil in jou gemeenskap te maak by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings