|

Spioenasiewetsontwerp ongrondwetlik en ’n gevaar vir demokratiese waardes, waarsku AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette (GILAB) vandag ten sterkste veroordeel in ’n skriftelike voorlegging aan die parlementêre ad hoc-komitee oor GILAB. AfriForum het in sy voorlegging benadruk dat die voorgestelde wysigings nie net ongrondwetlik is nie, maar ook die einste demokratiese waardes wat dit beoog om te beskerm, in gevaar stel.

Die uitbreiding van ondersoekingsmag, soos voorgestel in GILAB, is ’n bron van groot kommer. Volgens AfriForum wek die breë en dubbelsinnige definisie van die begrip “persoon of instelling van nasionale veiligheidsbelang”, soos wat dit tans in die wetsontwerp gedefinieer word, kommer oor die moontlike inbraak op die vryheid van assosiasie en die reg op privaatheid. AfriForum glo dat sulke ondersoekbevoegdhede tot onbehoorlike monitering kan lei en veral die burgerlike samelewing kan raak.

Volgens Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid, is dit onrusbarend dat GILAB die mandaat wil gee vir verpligte veiligheidsondersoeke vir die bedryf van burgerlike en privaat organisasies in Suid-Afrika. “Dit is egter nie verbasend nie, veral aangesien burgerlike organisasies die grootste doring in die korrupte ANC-regering se vlees geword het ten opsigte van hul aanspreeklikheid. Dié ‘doring’ brand selfs seerder aangesien die regering se eie Artikel 9-organisasies besmet is met dieselfde kaderisme wat tot die verrotting in murg en been van die regerende party gelei het,” verduidelik Broodryk.  

AfriForum se voorlegging pak ook die kwessie van ontoereikende oorsig aangaande grootskaalse moniteringsvermoë wat deur GILAB voorgestel word. Die poging om die Nasionale Kommunikasiesentrum (NKS) se werksaamhede te wettig, bied nie die nodige beskerming van privaatheid en vryheid van uitdrukking nie en skep die risiko vir ongekontroleerde moniteringsmag met onvoldoende beskerming teen moontlike misbruik. “Dit is duidelik dat, ten spyte van die Konstitusionele Hof se uitspraak in 2021 waarin die NKS se werksaamhede as onwettig verklaar is, GILAB poog om hierdie praktyke deur te druk waardeur grootskaalse onderskepping van verskeie soorte kommunikasie – insluitende data van internetverkeer en telefoongesprekke – moontlik onderneem kan word,” sê Broodryk. 

“Moenie vergeet hoe gereeld fluitjieblasers oor korrupsie in hierdie land geteiken word nie. Neem Babita Deokaran, wat in Augustus 2021 vermoor is in ’n poging om regeringskorrupsie toe te smeer, as ’n voorbeeld. Haar selfoon is weke lank vóór haar gewelddadige moord gemonitor en nagespoor. Nou wil dieselfde korrupte regering meer mag hê om op burgerlikes te spioeneer? Ek kan nie sien dat daar enigiets goed hiervan kan kom nie,” verduidelik Broodryk.

“Dit is dieselfde regering wat in die verlede al gevorderde tegnologie gebruik het om selfoonseine mee te belemmer om sodoende die media te verhoed om verslag te doen oor die staatsrede. Dit is nie die doen en late van ’n volwasse demokratiese regering nie, maar eerder dié van ’n Koueoorlog-, Sowjet-befondsde, terroriste-organisasie. Dit sal nie wys wees om sulke gedrag te beloon met selfs meer tiranniese intelligensiemag nie,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings