|

Afrikaans-Vriendelik gee ondernemings hupstoot met entrepreneurskompetisie

Afrikaans-Vriendelik, wat ten doel het om Afrikaans in die sakewêreld te bevorder, trek binnekort ʼn nuwe baadjie aan.

Vanaf 20 Julie 2017 sal Afrikaans-Vriendelik een van vyf inisiatiewe van AfriVriendelik wees, ʼn eenstopdiens vir alle entrepreneurs en sakeondernemings. Ander inisiatiewe sluit onder meer ʼn aanlynkletskamer vir AfriForum-lede en entrepreneurs, bemarkingsopleiding, die jaarlikse Tinteltong toekennings asook ʼn entrepreneurskompetisie in.

Afrikaans-Vriendelik is in 2016 deur AfriForum bekendgestel en bied erkenning en gratis bemarking aan Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers. Volgens Sanderien van der Walt, projekkoördineerder van Afrikaans-Vriendelik, was ʼn entrepreneurskompetisie die volgende logiese stap vir die uitbou van dié veldtog.

“Hierdie kompetisie is vir enige entrepreneur wat trots is op sy of haar onderneming en dit verder wil uitbou. Ons wil jong én ervare entrepreneurs aanmoedig om deel te neem vir die verskeie blootstellingsgeleenthede wat die kompetisie bied.”

Inskrywings open 20 Julie, tydens die bekendstelling van AfriVriendelik in Pretoria, en sluit 30 September 2017. Pryse sluit onder meer ʼn nuwe webwerf geborg deur MyGuru, ʼn advertensie vir gebruik op sosialemediaplatforms asook ʼn mentorskapsessie met een van die breine agter die bekende Buffelsfontein Baardolie-handelsmerk, Meyer le Roux, in.

Lede van die publiek kan dan tussen 2 en 15 Oktober vir hul toptien gunsteling- ondernemings stem, waarna ʼn uitgesoekte paneel die wenner sal kies wat op 20 Oktober 2017 aangekondig sal word.

Deelnemers in die Vrystaat en Wes-Kaap kan ook uitsien na AfriVriendelik se ander nasionale bekendstellings wat op 24 Augustus in Bloemfontein by Warm Karoo en 30 Augustus by Weltevreden Estate in Stellenbosch plaasvind.

“Ons weet daar is baie entrepreneurs in Suid-Afrika wat hard werk en ons wil deur dié kompetisie vir hulle ʼn hupstoot gee en dit moontlik maak om hul ondernemings verder uit te bou,” meen Van Der Walt.

Soortgelyke plasings