|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum plaas voortdurend druk op die regering wanneer burgerregte weens verskeie redes misken word. Daarom het die organisasie ’n memorandum aan president Cyril Ramaphosa se kantoor oorhandig oor die wrede werklikheid van plaasaanvalle in die land. Dit is gedoen in reaksie op die regering se jare lange versuim om sy plig na te kom om Suid-Afrikaners en veral plaasgemeenskappe teen hierdie gru-aanvalle en haatspraak te beskerm.

Die voorgestelde nuwe regulasies rakende watergebruik vir ontspanningsdoeleindes en gepaardgaande waterhulpbronbestuursplanne wat onlangs deur die Departement van Water en Sanitasie voorgelê is, is teruggetrek. AfriForum beskou hierdie as ’n oorwinning en sal aanhou om vir die publiek se regte te veg.

AfriForum het kommentaar ingedien op ’n wetsontwerp oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en is van mening dat hierdie wetsontwerp ruimte laat vir politieke inmenging en dat dit mense se vertroue in die strafregstelsel verder sal skaad.

Die organisasie en verskeie ander organisasies is ook van plan om die beoogde naamsverandering van vier dorpe in die Oos-Kaap teen te staan. Die voorstel is dat Graaff-Reinet se naam verander na Robert Sobukwe of Fred Hufkie; Adendorp na Kwa Mseki Bishop Limba; Aberdeen na Camdeboo; en Nieu-Bethesda na Kwa Noheleni.

AfriForum het ’n skenking van R10 000 bewillig vir die opknapping van die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria ná die Noord van die berg-tak amptelik toestemming van die Tshwane Metro gekry het om hierdie historiese terrein weekliks op te knap.

Die AfriForum-tak in Rustenburg het die Ou Rustenburg Begraafplaas skoongemaak en vyf stortbakke vol tuinvullis is verwyder. Die tak het ook onkruiddoder gespuit sodat die grafte nie oorgroei nie.

Die Lichtenburg-tak het sowat 190 m2 se padoppervlak in Republiekstraat herstel met 14 ton teer. Die Bethal-tak het ongeveer R17 000 bestee om slaggate in Buffelstraat te herstel.

AfriForum het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) verkla weens die voortslepende waterkrisis in Parys. Die organisasie het ook ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien om inligting te bekom oor die kontrakteurs wat aangestel is om dié munisipaliteit se waterwerke op te gradeer en ’n kragopwekker te installeer.

Danksy die druk wat die AfriForum-tak in Mookgophong toegepas het, het die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit ’n waterlek by die Nyl-pompstasie herstel sodat inwoners weer toegang tot water kon hê.

Nadat AfriForum ’n hofbevel bekom het waarin die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit verplig word om die rioolwerke in Klerksdorp te herstel, het dit tydens die herstelproses duidelik geword dat dié werke deur rowers geplunder is. Die munisipaliteit het die saaknommers rakende die diefstal aan AfriForum verskaf en van hierdie sake sloer al vir drie jaar. ’n Aanmaningsbrief is op die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes en die SAPD in Klerksdorp beteken om ’n vorderingsverslag oor die hangende sake te vereis.

AfriForum se Potchefstroom-tak het die riete by Trimpark uitgeroei nadat die tak toestemming by die Departement van Water en Sanitasie verkry het.

Die AfriForum-buurtwag in Swellendam is deur die Swellendam Besigheidsforum vereer met ’n Swellendam Staatmaker-toekenning vir gemeenskapsdiens ná dié buurtwag gehelp het tydens die onluste in die dorp.

Die Pellissier-buurtwag in Bloemfontein het in samewerking met die Mangaung-brandweer, Working on Fire, die plaaslike sekuriteitsmaatskappy ITR Security en boere ’n brand in die Kwaggafontein-Brandkop-gebied vinnig onder beheer gebring nadat ’n foutiewe kraglyn, wat aan die brand geslaan het, die brand veroorsaak het.

AfriForum se Bo-Karoo-tak in Orania het nuwe brandbestrydingstoerusting ter waarde van nagenoeg R50 000 aangekoop om die plaaslike gemeenskap met brandbestrydingsoperasies te help.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het Laerskool Delville in Germiston besoek om die leerders in te lig oor afknouery in skole.

Tydens die finaal van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is Hoërskool Durbanville as die nasionale kampioene gekroon in die junior afdeling terwyl die span van Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria die nasionale wenners in die senior afdeling is.

Soortgelyke plasings