|

Afrikaner-erfenis onthou wanneer AfriForum die Burgermonument skoonhou

AfriForum se Zeerust-tak het in Mei, uit eerbied vir al die burgers wat destyds gedurende die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het, die terrein waarop die Burgermonument gebou is skoongemaak. Die tak het die gras op dié terrein, wat 1 600 m² beslaan, gesny en twee sakke vullis weggery. Daar is ook plantdoder op die trappe van die monument gespuit om die groei van onkruid te verhoed. Die Zeerust-tak hou maandeliks sedert 2021 dié erfenisgebied in stand.

“Hierdie projek lê die Zeerust-tak na aan die hart. Dit is ’n klein deel van Afrikaners se geskiedenis, wat tog so belangrik vir ons erfenis is. AfriForum sal voortgaan om hierdie monument en die terrein waarop dit gebou is netjies te hou sodat hierdie deel van geskiedenis nooit vergete sal gaan nie,” sê Pierre van der Walt, ondervoorsitter van AfriForum se Zeerust-tak.

Dié monument, bekend as die Burgermonument, bestaan onder meer uit ’n gedenkmuur met ’n naamlys van burgers wat tydens die Slag van Kleinfontein, Buffelshoek (ook bekend as die Slag van Elandsrivier) en Lichtenburg gesneuwel het, sowel as oorspronklike grafstene van enkele van dié oorlede burgers. Dit gedenk ook burgers wat by die Beleg van Mafeking omgekom het sowel as gestorwe burgers van die Marico-omgewing wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het.

Die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) het voortgespruit uit Brittanje se voorneme om Suid-Afrika te oorheers nadat goud in die land ontdek is. Dié voornemens het egter in konflik gekom met die Boererepublieke (Transvaal en die Oranje-Vrystaat) se vasberadenheid om hul vryheid te behou. Nes Afrikaners destyds vir hul vryheid geveg het, beywer AfriForum dat Afrikaners – wat geen ander tuiste ken nie – in vreedsame naasbestaan met ander gemeenskappe blywend vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan.

“AfriForum is daartoe verbind om ’n verskil in gemeenskappe teweeg te bring, daarom is dit belangrik dat die inwoners van Zeerust saam met die burgerregteorganisasie werk om ’n verskil te maak. Laat ons saamwerk om ’n beter gemeenskap te bou,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Besoek www.wordlid.co.za om by die Zeerust-tak betrokke te raak of kontak Pierre van der Walt by 082 569 8564 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings