|

Middelburg-pretloop se roete verlig én beveilig ná AfriForum-buurtwag toetree

As daar iets is waaraan AfriForum se Middelburg-buurtwag al sy aandag aan wy is dit om dié gemeenskap te beveilig. Die buurtwag het onlangs opnuut sy toewyding aan die inwoners van Middelburg bewys toe hy die Christelik-Volkseie Onderwys (CVO)-skool Middelburg se pretloop, wat in die aand plaasgevind het, met die nodige sonkragveiligheidsligte verlig het om die deelnemers teen boosdoeners te beskerm.

Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak, sê die organiseerders van die pretloop was bekommerd oor die deelnemers se veiligheid, aangesien ’n deel van die roete in donkerte gehul was weens die straatligte wat buite werking is.

“Dit het nie net misdadigers die geleentheid gegee om weerlose pretlopers te teiken nie, maar kon tot ernstige beserings lei as die roete nie deeglik belig was nie,” sê Salzwedel.

AfriForum se Middelburg-tak is om hulp genader en dié tak se buurtwag is ingespan om sonkragveiligheidsligte te installeer om die roete te verlig. Buurtwaglede is ook in die gebied ontplooi om die deelnemers se veiligheid te verseker. Die sonkragveiligheidsligte is egter net tydelik opgerig omdat dit reeds vir ’n ander projek by ’n plaaslike tehuis geoormerk is.

“Ons is wel dankbaar dat ons die deelnemers tydens die geleentheid kon bystaan en verseker dat die pretloop suksesvol en veilig verloop het,” sê Salzwedel.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Middelburg-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings