|

Mosselbaai-tak woon streeksberaad #OnsSalSelf by

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 11 en 12 Augustus die streeksberaad #OnsSalSelf in die Wes-Kaap by die Eensgezind Function Venue in Durbanville, Kaapstad gehou. Die doel van dié beraad was om in samewerking met AfriForum-takbestuurslede aan praktiese planne vir die toekoms te werk en om almal op hoogte te bring van die jongste verwikkelinge in die organisasie.

Die tema vir vanjaar se beraad was #OnsSalSelf. Kallie Kriel het vertel hoe AfriForum in 2005 met drie personeellede ontstaan het. Sedertdien het die organisasie gegroei tot waar dit vandag meer as 313 000 vrywilligers en 168 buurtwagte het. Kriel het ook sy visie vir die toekoms gedeel. Verskeie sprekers het ander voorleggings gedoen oor onderwerpe soos plaaslikeregeringsake en omgewingsake soos AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek en hul nasionale veldtog om vullisterreine te oudit. Die lede kon vrae vra en insette lewer rakende plaaslike selfbestuur, strategie, en gemeenskapsveiligheid.

“Die lede se insette was opbouend en bemoedigend. Die samesyn met ander AfriForum-takke en die deel van uitdagings en oplossings stel ons in staat om mekaar te help en gee ons hoop vir die toekoms. AfriForum se streeksberade is waarlik ’n jaarlikse hoogtepunt. Saam is ons sterker,” sê Joy Cook, AfriForum se sekretaris van die Mosselbaai-tak.

Klik hier om by AfriForum se Mosselbaai-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings