|

Agt dinamiese vroue pak staptog vir kinders uit informele nedersettings aan

Deur Alet Rademeyer

“Dit is makliker om sterk kinders groot te maak as wat dit is om gebroke volwassenes te heel.”

Dit is met hierdie slagspreuk in gedagte dat die nieregeringsorganisasie Dynamic Women for Children Privaatsorgsentrum binnekort ’n reuse projek, Cape2Care, gaan aanpak om minderbevoorregte kinders ’n beter kans in die lewe te gee.

Tans word daar na 50 minderbevoorregte kinders omgesien, met 30 gesinne wat op ’n waglys is.

Marleen van der Walt, en haar dogter, Michelle van Biljon, staan aan die stuur van die organisasie wat vanjaar 14 jaar oud is.

Marleen van der Walt en haar dogter Michelle van Biljon.

Volgens Van der Walt het sy 14 jaar gelede in informele nedersettings in die Kameelfontein/Kameeldrift-omgewing, oos van Pretoria, begin werk onder die kinders.

“Ek het hierdie klein blondekopdogtertjies in die plakkerskampe sien rondhardloop wat in die skool moet wees én nog nooit in ’n skool was nie. Dit het my aan my hart geruk en ek het geweet dit is hier waar ek in die lewe ’n verskil moet maak.”

Die privaatsorgsentrum is reg langs die Laerskool Kameelfontein geleë. Dit was aanvanklik moeilik, maar hulle het uiteindelik die terrein met ’n huis daarop bekom.

“Ek het smiddae met die kinders in ’n houthuisie programme begin volg en maar my gebrekkige ervaring van spraak- en arbeidsterapie toegepas wat ek opgedoen het met my twee dogters wat prematuur gebore is.”

Tans word daar na 50 minderbevoorregte kinders omgesien, met 30 gesinne wat op ’n waglys is.

Volgens Van Biljon, ’n maatskaplike werker, word daar daagliks op die sosiale, emosionele, fisiese en opvoedkundige behoeftes van die kinders gefokus.

Die kinders word soggens vroeg by die informele nedersettings van reg rondom die Roodeplaatdam opgelaai sodat hulle om sesuur ontbyt by die sentrum kan eet voor die skooldag begin. Elkeen kry ’n kosblik saam skooltoe. Daar word sommer saam met die laerskoolkinders na die skool gestap, terwyl die hoërskoolleerlinge by verskeie skole soos Transvalia, Magalieskruin en ander in die Moot-area besorg word.

Deur die loop van die oggend word die sentrum skoongemaak en kos vir almal voorberei. Die kinders word almal weer by die skole opgelaai en na die sentrum gebring waar hulle met leer- en huiswerk gehelp word. Daar word ook partytjie gehou as een verjaar en as hulle klaar is met huiswerk kan hulle in die groot tuin baljaar. Genoeg kos word voorberei sodat hulle nie die aand hoef te eet as daar nie kos by hul huise is nie.

“Daar word in elke behoefte van elke kind voorsien. Hulle kry toiletware, klere, skryf- en skoolbehoeftes. Alles wat ’n gewone kind nodig het, kry hulle,” verduidelik van Biljon.

Dynamic Women for Children se groot droom en visie is om ’n  koshuis vir 50 kinders te bou waar hulle ook kan slaap. Nou keer hulle elke dag na hul huise terug en naweke is hulle nie altyd verseker dat daar kos is nie. In die grendeltyd is twee asbesgeboue deur Lottoland geskenk wat elk agt seuns en agt dogters kan huisves. Dit is reeds met beddens, lessenaars en stoele ingerig en sonpanele kan in elektrisiteit voorsien. Daar moet egter eers geriewe vir koshuisouers gebou en ingerig word alvorens hul aansoek by die departement van maatskaplike ontwikkeling kan doen om as ’n private koshuis te bedryf.

Van der Walt droom ook van ’n behoorlike terapiesentrum waar kantore verhuur kan word aan sielkundiges, dokters en arbeids- en ander terapeute, maar wat ook in ruil een dag van hul tyd beskikbaar moet stel om terug in die lewens van die kinders te ploeg. ’n Babahuis word ook in die vooruitgesig gestel waar weggooibabas vroeg reeds ’n heenkome kan kry.

Om hierdie drome te bereik, spring agt dinamiese vroue op 31 Januarie in Gauteng weg om aan ’n staptog van 21 dae oor ’n afstand van 1 460,4 km na Kaapstad deel te neem. Hulle hoop om borgskappe van R3 500 per km te kry om by die mikpunt van sowat R5 miljoen uit te kom. “Maar elke R10 of R100 wat ons insamel, kan ’n groot verskil in ons kinders se lewens maak.

“Ons is voorbereid en slaggereed. Die staptog is iets wat ek nog altyd wou doen en ek glo dit gaan ook ’n geestelike ervaring wees,” sê Van der Walt.

Die vroue hoop ook om baie steun vir hul projek te kry by die onderskeie dorpe waar hulle gaan aandoen. Hulle gaan nie op nasionale paaie stap nie. Hulle spring by die Grassmere-tolhek weg en sal by Randfontein, Vredefort, Kroonstad, Theunissen, Bloemfontein, Trompsburg, Colesberg, Hanover, Richmond, Victoria-Wes, Loxton, Fraserburg, Sutherland, Ceres, Wellington en Durbanville aandoen voordat hulle die staptog by die V&A Waterfront afsluit.

Van der Walt sê hulle glo dat hulle die teikenbedrag sal insamel. Hul vertroue is geskoei op Markus 11:24 wat lui: Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou.

“Hierdie is ons lewensroeping. Ons stap vir ons kinders wat gefaal is. Gefaal is deur hul omstandighede, die volwassenes in hul lewe, hul omgewing en vals beloftes. As ons een lewe met een enkele tree kan verander, dink net hoeveel lewens kan ons verander deur 1 460 km af te lê?”

Belangstellendes wat die projek of die sorgsentrum op enige manier wil ondersteun, kan  https://www.cape2care.dwfc.org.za/ besoek. Hulle kan ook op Facebook en Instagram gevolg word.

Soortgelyke plasings