ANC ontbloot en vervolg

ANC ontbloot en vervolg

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke het nou eenhede gestig om mense te vervolg vir politieke misdade wat voor 1994 gepleeg is en waarvoor hulle nie amnestie gekry het nie. Vervolgings wat tot dusver ingestel is, toon aan dat die NVG onder die ANC-regering op eensydige wyse slegs op lede van die voormalige veiligheidsmagte en politici fokus, terwyl die ANC-leiers wat opdragte vir terreurdade gegee het en nie amnestie gekry het nie skotvry daarvan afkom.

AfriForum is van mening dat die boek van die verlede gesluit moet word. Die ANC gaan egter met vervolgings voort, en daarom moet ook ANC-leiers vervolg word wat hulself skuldig gemaak het aan growwe menseregteskendings deur opdragte vir bom-, handgranaat- en landmynaanvalle te gee. AfriForum gaan toesien dat gelykheid voor die reg beskerm word. Daarom gaan ons met stappe begin om ANC-leiers privaat deur adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid te vervolg as die NVG op eensydige wyse slegs vervolgings teen lede van die voormalige veiligheidsmagte instel.

Jy kan help!

AfriForum kan slegs ANC-lede vervolg as ons namens slagoffers van ANC-terreurdade optree. Laat weet ons asseblief as jy ’n geliefde in ’n ANC- of ander terreuraanval verloor het of kontak het met die familie van slagoffers. Vertel jou verhaal sodat AfriForum kan verseker dat geregtigheid geskied.

AGT VLAKKE VAN BEHEER – ANC-VIDEO:

Daar bestaan ‘n teorie dat die regering oor agt kritieke vlakke beheer moet neem om ’n demokrasie in ’n sosialistiese of kommunistiese staat te omskep:

  • Gesondheidsorg – beheer gesondheidsorg en jy beheer die mense.
  • Armoede – armoede so veel moontlik toeneem; arm mense is makliker om te beheer en sal nie terugbaklei nie as jy alles vir hulle gee om mee te oorleef.
  • Skuld – laat skuld tot op ’n onvolhoubare vlak toeneem; só sal jy belasting kan verhoog, wat tot meer armoede lei.
  • Vuurwapenbeheer – neem mense se vermoë weg om hulself teen die regering te verdedig, en jy kan ’n polisiestaat tot stand bring.
  • Welsynsdienste – neem beheer oor elke aspek van hul lewe, insluitend voedsel, behuising en inkomste, en jy maak hulle afhanklik van die staat.
  • Onderwys – neem beheer oor wat mense lees en luister, en wat jou kinders op skool leer. Só kan jy mense breinspoel om met die staat saam te stem.
  • Godsdiens – wis geloof in God in die staat en skole uit. Soos Karl Marx, medeskrywer van Die kommunistiese manifes, tereg gesê het: “Kommunisme begin waar ateïsme begin.”
  • Klasse-oorlog – skep afstand tussen die armes en die rykes. Dit sal meer vervreemding veroorsaak en dit makliker maak om die rykes te belas – met die armes se goedkeuring

Dié teorie het in die afgelope maande al hoe gewilder geword omdat al meer burgers hul eie regerings se aksies herken wat met dié agt vlakke ooreenkom. Hoewel die oorspring van die teorie nie bevestig kan word nie, blyk dit verseker dat Suid-Afrika se ANC-beheerde regering dié teorie as spelboek gebruik.

In dié dokumentêre reeks neem ons elkeen van die agt vlakke onder die loep om aan te dui hoe die Suid-Afrikaanse regering se beleide met dié agt vlakke belyn is.

Soortgelyke plasings