|

Privaatvervolgingseenheid sal waaksaamheidsopdrag in kindermishandelingsaak voortsit

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag in die streekhof in Brits die klaer in een van die kindermishandelingsake waarby die eenheid tans betrokke is, ondersteun. Die eenheid het by hierdie saak betrokke geraak nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in ’n reeks sake om onverklaarbare redes besluit het om nie te vervolg nie. In hierdie saak word twee mans en die ma van ’n jong meisie deur die NVG vervolg op verskeie klagtes van verkragting van die meisie wat ten tyde van die pleging van die beweerde misdaad in 2018 ses jaar oud was. Die saak is vandag tot 28 Oktober uitgestel omdat die aanklaer aangevoer het dat sy nie tyd gehad het om met al die getuies te konsulteer nie.

Volgens adv. Gerrie Nel is die regering besig om bloot lippediens te bewys aan slagoffers van geweld teen vrouens en veral kinders. “Indien die regering en die NVG werklik ernstig was oor die bekamping van geweld teen vroue en kinders, sou ons nie gevalle soos vandag gesien het nie. Verskeie hooggeplaaste politici maak jaar ná jaar toesprake oor die staat se verbintenis tot die geveg teen geslagsgebaseerde geweld en geweld teen kinders, tog het die NVG besluit om ’n nolle prosequi-sertifikaat in hierdie saak uit te reik. Die oomblik toe ons aangedui het dat ons die beskuldigdes privaat sal vervolg, het die aanklaer egter besluit om vervolging in te stel. Dit is nie net geregtigheid wat onder hierdie tipe besluite ly nie, maar veral die jong slagoffers van gewetenlose misdadigers wat dink dat hulle die gereg kan ontduik.”

AfriForum het in Julie vanjaar tydens ’n mediakonferensie die eenheid se betrokkenheid aankondig by vier sake van die ernstigste gevalle van die seksuele mishandeling van kinders wat die eenheid nóg teëgekom het. In drie van die gevalle het die NVG, ten spyte van oorweldigende bewyse, aanvanklik die besluit geneem om niemand te vervolg nie.

Dit kan afgelei word uit getuienis in hierdie saak dat die sesjarige meisie se ouma haar as ’n kommoditeit gebruik het deur toe te laat dat sy verkrag word teen betaling. Die meisie het beskryf hoe oortreders ’n skottelgoedsponsie in haar mond gedruk het tydens die verkragtings en seksuele molestering om te keer dat sy enige geraas maak. Drie beskuldigdes is aangekla nadat die eenheid op 29 Junie 2021 by die saak betrokke geraak het, maar twee ander verdagtes, insluitend die ouma wat deur die meisie geïdentifiseer is, is nog nie gearresteer nie.

Soortgelyke plasings