|

AKADEMIA WIL JOERNALISTE VIR VERANDERENDE WÊRELD VAN KOMMUNIKASIE OPLEI

Deur Alet Rademeyer

Die wêreld van nuus en kommunikasie het die afgelope twee dekades dramaties verander en werklike joernaliste moet vandag meeding met “burger-joernaliste” wat nie opgelei is nie.

Kwaliteit-joernaliste is egter steeds van kritieke belang en daarom is goeie opleiding net so belangrik, sê Freek Robinson, joernalis en mediapersoonlikheid.

Robinson was een van die sprekers by die bekendstelling van Akademia se nuwe BA-graad in Kommunikasie en Joernalistiek.

Robinson, wat meer as 40 jaar se ervaring in die bedryf het, sê ondanks groot veranderinge wat daar die afgelope jare in die bedryf was, die afname in advertensies en groter besteding op digitale en sosiale media-platforms, is joernaliste met behoorlike kennis steeds onontbeerlik. “’n Joernalis moet altyd kan perspektief gee, hy of sy moet lojaal wees en ’n verskil in hul gemeenskappe kan bring. ’n Joernalis moet te alle tye geloofwaardig wees en altyd onthou dat jy jou reputasie wat oor jare opgebou is in sekondes kan vernietig deur onoordeelkundige optrede of deur iets wat jy sê of skryf.”

Dr. Alé Steyn, programkoördineerder vir die graad, meen die nuwe kwalifikasie gaan daarop toegespits wees om kommunikasiepraktisyns toe te rus vir ’n bedryf wat teen ’n verstommende tempo verander. Mediapraktisyns verrig vandag take op ’n ander manier as in die verlede. “Ons moet studente oplei om gerat te wees vir hierdie nuwe uitdagings. Hulle moet opgelei word om aanpasbaar en innoverend te kan wees.”

Prof. Pieter Duvenhage, dekaan van Geesteswetenskappe by Akademia, sê Akademia is nie net ’n instelling wat oplei nie, maar ook opvoed. “Ons wil studente oplei om ’n sterk historiese bewussyn te gee, ons wil hul karakter bou en van hulle goeie mense maak deur aan die hoogste standaarde in Afrikaanse opleiding te voldoen. Wanneer studente hierdie kwalifikasie behaal, moet hulle toegang tot die Afrikaanse en breër mark kan kry.”

Maroela Media het aangekondig ’n studiefonds vir hierdie kwalifikasie is begin. Dit sal ’n rentevrye lening wees en ’n student sal ook geleentheid kry om ’n internskap by Maroela Media te voltooi.

Dié kursus word vanaf 2021 aangebied. Vir meer inligting, besoek https://akademia.ac.za/ba-kommunikasie-en-joernalistiek/.

Soortgelyke plasings