|

Nuuskommentaar: Regstelsel gebroke en gewone Suid-Afrikaners dra die gevolge

Julius Malema, leier van die EFF, is weer hierdie week in die streekshof in Oos-Londen omdat hy na bewering in 2018 ’n vuurwapen by ’n saamtrek in die lug afgevuur het. Die blote feit dat dit nou 2023 is en die saak nog nie afgehandel is nie, dui daarop dat die regstelsel in die beste scenario disfunksioneel is. Maar neem in ag hoeveel keer voormalige president Jacob Zuma se hofsaak al uitgestel is en hoeveel kommerwekkende uitsprake in die laaste jaar in Suid-Afrikaanse howe gemaak is en dit lyk eerder of die regstelsel gebroke is.

Alhoewel Malema in Oos-Londen nog moet hoor of daar iets gaan kom van die saak teen hom is hy reeds vrygespreek op klagtes van aanranding en haatspraak. In die aanrandingsaak het ’n video aan die lig gekom waar Malema en EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi Johannes Venter, SAPD-kolonel, by Winnie Mandela se begrafnis te lyf gegaan het, maar daar is beslis dat Malema en Ndlozi in putatiewe noodweer opgetree het. Volgens die landdros se uitspraak was hulle onder die indruk dat hulle toegang tot die begraafplaas geweier is. Daarom, volgens die landdros, het Venter Malema en Ndlozi se konstitusionele reg tot vryheid van beweging en menswaardigheid aangetas toe hy hulle by die ingang van die begraafplaas gestop het.

Julius Malema, leier van die EFF, tydens die aanrandingsaak in Randburg.

Die saak het ook ’n paar raaiselagtige draaie gemaak voor die hofsaak nog plaasgevind het. Eers wou die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie Malema en Ndlozi vervolg nie en het hulle eers van plan verander nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ’n waaksaamheidsopdrag bekom het. Die dossier het in ’n stadium verdwyn en die eenheid moes ’n afskrif aan die NVG verskaf en Venter moes een verklaring na die ander aflê om sekere vrae te beantwoord.

In die haatspraaksaak het Malema volgehou dat hy niks verkeerd daarmee sien om die dreunsang Kill the Boer te sing nie en ook dat die slagting van wit mense in die toekoms nie uitgesluit kan word nie. Tog het die Gelykheidshof beslis dat Kill the Boer nie haatspraak is nie. Ernst Roets, bestuurshoof vir strategie by AfriForum, sê dat hierdie uitspraak ’n baie gevaarlike presedent skep. Die steurende boodskap wat met hierdie uitspraak gestuur word, is dat die aanmoediging van die gruwelike moord van ’n sekere groep gebaseer op hul identiteit aanvaarbaar is en geen gevolge dra nie.

Thandi Modise, minister van Verdediging, is op klagtes van onder meer dieremishandeling vrygespreek ondanks die feit dat meer as 200 diere op haar plaas dood is. 

Thandi Modise, minister van Verdediging, en haar regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, tydens die dieremishandeling hofsaak in Potchefstroom.

Dis egter nie net hooggeplaaste politici wat deur die krake van die regstelsel glip nie. Sabotasie is amper ’n daaglikse gebeurtenis by Eskom se sukkelende kragstasies, maar tog sien ’n mens omtrent nooit dat iemand in die hof hiervoor verskyn nie. Dan is daar sedert 2011 bykans 9 000 vuurwapens by die polisie gesteel. Dis dan logies om te verwag dat honderde of selfs duisende mense vir hierdie diefstal vervolg sou word. Inderwaarheid is net 35 sake vervolg met vyf mense wat skuldig bevind is. Hierdie vuurwapens speel ’n direkte rol in misdaad.

Hierdie is net ’n paar voorbeelde van hoe die regstelsel deesdae funksioneer. Die uiteinde van die saak is dat misdadigers nooit die binnekant van ’n hof sien nie of selfs as hulle daar beland steeds op vrye voet eindig om verdere misdade te pleeg teen gewone Suid-Afrikaners wat daaronder ly.

Soortgelyke plasings