|

‘As jy nie moedertaal eis nie, eis jy tweede beste vir jou kind’

Die jongste Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, wat daarop gemik is om besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid te sentraliseer en in die hande van die staat te plaas, is irrasioneel en in wese ’n aanval op grondvlakdemokrasie.

Só meen adv. Albert Lamey, bekende Pretoriase advokaat wat al by verskeie regsgedinge oor taalkwessies betrokke was.

Lamey, Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, en prof. Elirea Bornman, kommunikasiewetenskaplike voorheen verbonde aan Unisa, het vandag die implikasie van die wetsontwerp (Bela-wetgewing) en die ononderhandelbare belangrikheid van moedertaalonderrig in ’n aanlyn gesprek bespreek.

Die Bela-wetgewing is sedert 2017 op die regering se agenda en is nou weer aan die parlement voorgelê. Dit sal na verwagting binnekort weer vir openbare kommentaar gepubliseer word.

Lamey stem saam met dr. Theuns Eloff, politieke ontleder, dat die voorgestelde Bela-wetgewing die sterkste en bitterste aanslag op Afrikaanse skole is sedert 1994.

Van die mees drakoniese voorstelle in die wetsontwerp kom neer op ’n totale erodering van skoolbeheerliggame se bevoegdhede om oor skole se taal- en toelatingsbeleid te besluit en pas in by die ANC se aanslag teen Afrikaans en Afrikaanse skole in die algemeen.

Lamey wys egter daarop dat beheerliggame se bevoegdhede gegrond is op grondwetlike beginsels wat vennootskappe tussen skoolgemeenskappe (wat beheerliggame insluit) en die staat en samewerkende regering onderskryf. Die Skolewet het volkome hiervoor voorsiening gemaak, terwyl die wetsontwerp die besluitnemingsbevoegdhede nou na die provinsiale regering (onderwyshoof) wil oordra.

Volgens Lamey is dit onduidelik wat die denke hieragter is, aangesien die wegneem van beheerliggame se bevoegdhede sal neerkom op ’n miskenning van grondvlakdemokrasie sowel as die beginsels van vennootskappe en samewerkende regering.

Terwyl daar in die verlede en steeds, veral vanuit Gauteng, groot druk op skole is om te verengels, wys Lamey egter ook op die Overvaal-hofsaak waarby hy in 2018 betrokke was.

Die Konstitusionele Hof het in die saak ’n appèlaansoek van die Gautengse onderwysdepartement van die hand gewys en beslis dat die skool ’n enkelmedium Afrikaanse skool mag bly nadat die departement dit wou dwing om parallelmedium te word. Die uitspraak het daarop berus dat die departement nie voldoende oorweging gegee het aan beskikbare kapasiteit van naburige Engelse skole nie.

Lamey sê die vraag moet gevra word hoekom daar getorring wil word aan ’n beleid wat werk.

Hy sê voorts Afrikaans word deur ’n baie diverse groep mense in die land gepraat. Daar is sowat 6 miljoen moedertaalsprekers en die groep is nog groter as tweede- en derdetaalsprekers ingesluit word. “As dit in ag geneem word, is Afrikaans gelyk aan Engels.”

As ’n ouer nie moedertaalonderrig vir sy kind eis nie, eis hy/sy tweede beste vir die kind.

Lamey het ook gewys op die negatiewe gevolge vir die taal in die beroepswêreld as voortgegaan word om dit as onderrig- en wetenskapstaal af te takel. “Afrikaans is een van die jongste tale wat tot akademiese taal gevorder het en as dit afgetakel word, ry dit enige verdere vordering in die wiele.

“As ons Afrikaans as vaktaal verloor, het ons ’n probleem, want dit beteken beroepslui kan nie hul kliënte in die taal bedien wat hulle verkies nie en uiteindelik lei dit tot afgewaterde beroepsbeoefening.”

Bornman sê daar is soveel internasionale en plaaslike navorsing oor die belangrikheid en voordele van moedertaalonderrig gedoen dat dit sonder uitsondering tot die beste voordeel van enige kind is. “Dit is eenvoudig ’n uitgemaakte saak dat kinders beter in hul moedertaal leer. Mense maak die grootste fout as hulle dink dit is beter dat kinders in Engels leer omdat hulle aan Engelse programme op televisie blootgestel word. Die taal waarin ’n mens leer verskil radikaal van alledaagse Engels.”

Sy het ook verwys na die prestasie van mense wat tot op tersiêre vlak moedertaalonderrig ontvang. “Hulle presteer internasionaal uitstekend en dit is ook oor en oor bewys dat iemand wat in sy moedertaal onderrig is ’n tweede en selfs derde taal baie makliker bemeester. As ’n ouer nie moedertaalonderrig vir sy kind eis nie, eis hy/sy tweede beste vir die kind.”

Bornman en Lamey het ook op die verband tussen taal, kultuur, identiteit en menswaardigheid gewys.

“Mense besluit op grond van populistiese opvattings eerder as wetenskaplike bewyse dat hul kinders eerder in Engels as hul moedertaal onderrig moet word. Dit is ’n mite dat die hele wêreld Engels is en dit die enigste taal is wat vir jou voordele inhou. Jy is eintlik uit pas as jy dink moedertaal is nié die beste en belangrikste vir jou kind nie,” sê Lamey.

Bornman het daarop gewys dat Afrikaanse leerlinge en studente geen rede het om nie trots op hul taal te wees én dit op te eis nie. “As jy dit nié opeis nie, benadeel jy nie net jouself nie, maar ook jou medetaalsprekers in die land.”

Bailey sê in die lig van die Bela-wetgewing sal AfriForum alles in die stryd werp om Afrikaanse skole te red. Dit is egter in die hande van diegene wat die erns van die aanslag besef om saam te staan en die wetgewing teen te staan. Teken AfriForum se petisie hier.

Soortgelyke plasings