|

Bela-wetgewing sal onderwys ingrypend skaad ‒ AfriForum is gereed vir regsaksie as wetgewing aanvaar word

AfriForum beklemtoon dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) onderwys in die land ingrypend sal skaad indien dit in die huidige formaat aanvaar word. Dié kommentaar volg in reaksie op die voorlopige nasionale verslag oor die parlement se openbare deelnameproses oor die wetsontwerp wat pas bekend geraak het. Volgens dié verslag is groot steun deur die publiek vir die wetsontwerp uitgespreek.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, noem egter dat die ervaring van personeel en taklede van dié organisasie wat aan die openbare raadplegingsessies in die nege provinsies deelgeneem het, deurlopend was dat daar juis oorweldigende teenkanting teen die wetsontwerp was. Dit is uitgespreek met deeglik beredeneerde voorleggings en nie bloot populistiese uitlatings soos dat enkelmedium Afrikaanse onderrig sogenaamd rassisties is en transformasie belemmer nie.

“Afgesien van die publiek se menings, behoort die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Basiese Onderrig daarop te let dat verskeie bepalings in die voorgestelde wet bots met uitsprake in die Grondwet, asook uitsprake van die Konstitusionele Hof. Deur die wetsontwerp deur die parlement te probeer stoomroller voor die nasionale verkiesing van 2024, word die deur oopgelaat vir vele regsaksies wat natuurlik nie deur die amptenary persoonlik betaal word nie, maar deur die staat, en dus uiteindelik deur die reeds oorlaaide belastingbetalers,” meen Bailey.

Bailey verduidelik dat litigasie egter noodsaaklik sal wees, omdat dié wetgewing aspekte soos die reg van toegang tot moedertaalonderrig, die privaatheid van ouerbeheerliggaamlede, beperkte klasgroottes ter wille van gehalte onderrig en die aktiewe betrokkenheid van skoolgemeenskappe deur middel van demokraties verkose ouerbeheerliggame sal vernietig.

“Onderwyskundiges weet dat hierdie net nóg ’n poging is om die gemeenskap van mag te ontneem en dit in die staat se hande te sentreer. Nou word die strooipop weer opgestel dat voormalige Model C-skole die poort tot sukses is vir kinders, wat weens die staat se totale gebrek aan verantwoordbaarheid, in disfunksionele skole is.”

“Sou die Bela-wetgewing aanvaar word, is AfriForum se regspan voorbereid daarop om dit met regsaksie teen te staan”, sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings