|

 AfriForum eis antwoorde van Ugu Distriksmunisipaliteit

Die AfriForum-tak in Margate het die Ugu Distriksmunisipaliteit op terme geplaas om dringend antwoorde te verskaf rakende hoe die munisipaliteit beplan om die gebrek aan waterlewering aan te pak en watter planne in werking gestel gaan word om hierdie dienste weer te normaliseer.

Die tak eis die volgende van die munisipaliteit:

  1. Dat die werklike redes vir die gereelde wateronderbrekings verskaf word;
  2. ’n Aksieplan oor hoe die munisipaliteit beplan om hierdie probleme uit te sorteer;
  3. ’n Aanvaarbare noodplan vir die gereelde onderbrekings;
  4. Dat ’n waterdiens- en ontwikkelingsplan aan AfriForum beskikbaar gestel word.

“Gereelde wateronderbrekings kom in Margate voor en die redes wat vir hierdie onderbrekings verskaf word is net onaanvaarbaar. Die Suidkus se ekonomie is afhanklik van toerisme en hierdie voortslepende waterkrisis lei tot geweldige finansiële verliese,” sê Cliff Holme, voorsitter van AfriForum se Margate-tak.

“Ons sien daagliks hoe infrastruktuur in Kwazulu-Natal agteruitgaan en AfriForum is teleurgesteld dat die munisipaliteit so traag is om hierdie probleem op te los. Die Ugu Distriksmunisipaliteit moes reeds die waterprobleem aan die parlement verduidelik en aangesien daar geen werklike veranderinge plaasgevind het nie gaan AfriForum ook die parlement in kennis stel dat hierdie swak diens steeds voortduur,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder in KwaZulu-Natal.

Die munisipaliteit het tot 9 Maart om op die tak se eise te reageer.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Margate” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings