|

Geregtigheid verder vertraag vir familie van man wat in polisie-aanhouding sterf

Meer as twee jaar nadat ’n geregtelike doodsondersoek ter rolle geplaas is om aangehoor te word, kon die saak steeds nie voortgaan nie weens nog ’n nalating deur die staat. Byna twee dekades nadat Solomon (Solly) Nengwane in polisie-aanhouding dood is, sal sy familie nog minstens vyf maande moet wag voordat hulle uiteindelik antwoorde kan kry. Die geregtelike doodsondersoek is aanvanklik op 15 April 2021ter rolle geplaas , en sou ná talle vertragings op 27 September, in die Brits-landdroshof begin. Maar dit sal nou na verwagting eers in Februarie volgende jaar begin – byna drie jaar later .

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Nengwane se familie. Die 42-jarige was een van vyf mense wat in 2006 gearresteer en deur die polisie ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollars – en dwelms – by die Benoni-polisiestasie gesteel is. Die ses persone van belang wat in die doodsondersoek geïdentifiseer is, was deel van die taakspan wat die saak ondersoek het.

Een van die persone van belang is die voormalige adjunkkommissaris van Noordwes, genl.maj. Ntebo Jan Mabula. Daar word beweer dat Mabula en die ander Nengwane doodgemartel het. Die amptelike weergawe is dat die polisie besef het daar is fout met Nengwane en hom na die Dr. George Mukhari-hospitaal geneem. Hy was reeds dood toe hulle daar aankom.

Tydens die vorige verskyning in Februarie vanjaar, wat uitgestel is weens die onbeskikbaarheid van ’n landdros om die geregtelike doodsondersoek aan te hoor, is die versekering gegee dat ’n landdros betyds aangestel sal word om dit aan te hoor. Maar ’n landdros is eers verlede week Vrydag aangestel. Hierdie onsekerheid het beteken dat die ondersoekbeampte nie die persone van belang gedagvaar het om by die hof teenwoordig te wees nie. Hul regsverteenwoordiger het aangevoer dat dit sy kliënte sal benadeel om sonder hulle voort te gaan, alhoewel dit ingevolge die Wet op Geregtelike Doodsondersoeke toegelaat word.

Die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman sê die staat gaan voort om die Nengwane-familie in die steek te laat. “Die familie is deur die staat gefaal toe hul geliefde in polisie-aanhouding gesterf het. Die familie is toe deur die staat gefaal toe die ondersoek en afhandeling van die saak vir meer as ’n dekade uitgestel is. Nou is die gesin deur die Departement van Justisie gefaal weens die vertraagde aanstelling van ’n landdros.

“Elkeen van hierdie mislukkings deur die staat het ’n nadelige impak gehad op die welstand van ’n bedroefde gesin wat bloot geregtigheid soek. Ons kan nie meer sulke vertragings duld nie. Die eenheid verwag van elke party in hierdie verrigtinge om hul werk te doen sodat die geregtelike doodsondersoek  afgehandel kan word,” sê Bateman.

Die geregtelike doodsondersoek is geplaas om van 20 tot 23 Februarie en 16 tot 19 April volgende jaar te duur.

Soortgelyke plasings