|

‘Bela is skoolkaping’

AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het gister druk op die regering verskerp deur ’n petisie aan pres. Cyril Ramaphosa te stuur oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela). Die Nasionale Vergadering (NV) het hierdie omstrede wysigingswetsontwerp verlede week aanvaar en dit is aan Ramaphosa gestuur om onderteken te word.

Dié organisasies eis met die petisie dat Ramaphosa nie die wetsontwerp goedkeur nie en dat dit na die NV terugverwys moet word vir heroorweging.

Die Bela-wet hou ’n ernstige bedreiging in vir die voortbestaan van enkelmedium Afrikaanse skole, asook gehalte-onderrig en daar word in die petisie aangevoer dat Bela skole se kultuur en identiteit aanval.

AfriForum, Solidariteit en SOS het reeds aangekondig dat hulle kragte gaan saamsnoer in die stryd teen hierdie wetgewing. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dit is duidelik dat die regering nou die ooreenkoms verbreek wat in 1994 gesluit is oor die beskerming van taal en kultuur.

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, sê dit sal ’n tree terug na nóg groter staatsbeheer oor openbare skole wees indien Ramaphosa die Bela-wetsontwerp onderteken.

“Ons eis dat die Bela-wetsontwerp wéér vir openbare insette teruggestuur word en sal graag help om die aanpassings só te formuleer dat dit nie teenstrydig met die Grondwet is nie. Die Bela-wetsontwerp is nie belyn met die oorspronklike bedoeling van die Suid-Afrikaanse Skolewet nie. Dit laat ons met geen ander keuse as om met regstappe te begin as die president weier om gehoor te gee aan ons bekommernisse,” sê Fourie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het onlangs in ’n ope brief aan Afrikaanse ouers en onderwysers op Maroela Media verduidelik waarom dit belangrik is dat ouers en skole Bela moet teenstaan. Kriel voer in die brief aan dat Bela onderwyshoofde se magte tot so ’n mate gaan versterk dat Afrikaanse skole direk geteiken gaan word. Dit versterk ook dié hoofde se mag om finaal oor ’n skool se toelatings- en taalbeleid te besluit ondanks wat die skoolbeheerliggaam besluit het.

Ook Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, het in ’n artikel verduidelik waarom die organisasies steeds teen Bela gekant is en het die redenasies teen AfriForum se standpunt weerlê. Volgens haar het AfriForum se standpunt sedert 2017 nog nie verander nie en is die organisasie van mening dat skoolgemeenskappe deur middel van hulle demokraties-verkose beheerliggame self finaal oor hulle skole se taal- en toelatingsbeleide moet kan besluit.

“AfriForum beskou die wetsontwerp as ’n berekende aanslag op veral enkelmedium- Afrikaanse skole en daarom ook as ’n poging om kulturele etniese suiwering te pleeg. Die Afrikaanse gemeenskap se kulturele identiteit word bedreig deur hulle taal stelselmatig uit openbare skole te sluit, soos wat reeds met openbare universiteite gebeur het,” sê Bailey.

Hierdie organisasies is dit eens dat dié wetgewing nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie en indien Ramaphosa dit wel onderteken is regstukke reeds voorberei om dit op alle moontlike maniere te beveg.

Besoek www.stopbela.co.za vir meer inligting oor AfriForum se standpunte oor Bela en om die organisasie te steun in sy stryd teen dié omstrede wetsontwerp.

Soortgelyke plasings