Kill the Boer: AfriForum pak Malema se haatspraak eersdaags in Appèlhof

Die burgerregteorganisasie AfriForum het aangekondig dat sy appèl teen die Gelykheidshof se bevinding dat die Kill the Boer-dreunsang nie haatspraak is nie, op 4 September in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein aangehoor gaan word. AfriForum het dié aankondiging gemaak nadat Julius Malema, leier van die EFF,  weer die afgelope naweek Kill the Boer gesing het tydens die EFF se tiende bestaansjaarvieringe.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat dié appèlhofsaak deel vorm van AfriForum se strategie om Malema se rassistiese en polariserende optrede op drie fronte teen te staan, naamlik, deur regsaksies, die mobilisering van gemeenskapsveiligheidstrukture en die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen kultuurgemeenskappe.

Volgens Kriel het AfriForum, as deel van sy regsstrategie, reeds ’n prominente senior advokaat en regspan aangestel om Malema tot verantwoording te roep in die Appèlhof en die organisasie is gereed om selfs die Konstitusionele Hof te nader indien nodig. “Ek glo AfriForum het ’n sterk saak teen Malema, maar sou die Suid-Afrikaanse howe wel bevind dat dit aanvaarbaar is dat Malema liedjies sing wat volksmoord teen minderhede aanhits, sal AfriForum die saak internasionaal verder voer,” voeg Kriel by.

Die tweede been van AfriForum se strategie behels om gemeenskappe te mobiliseer om enige pogings om gewelddadig op te tree teen staan. “Gemeenskapsveiligheidstrukture het ’n sleutelrol gespeel om toe te sien dat die EFF se shut down poging op 20 Maart vanjaar klaaglik misluk het. AfriForum se 168 buurtwagte en duisende vrywilligers is gereed om saam met ander veiligheidsrolspelers, binne die raamwerk van die wet, te help toesien dat enige toekomstige pogings van die EFF om landswyd ontwrigting te veroorsaak net so groot mislukking sal wees vir die EFF as wat 20 Maart die geval was,” sê Kriel. 

Die derde been van die strategie om Malema se polariserende optrede te neutraliseer, is dat AfriForum sy bestaande werkswyse om ooreenkomste vir wedersydse erkenning, respek en samewerking met verskillende kultuurgemeenskappe te sluit, verder te versnel. “Deur toe te sien dat die meerderheid mense op voetsoolvlak se strewe na vrede en verdraagsaamheid omskep word in ’n samewerkingsnetwerk teen polariserende optrede, sal die polariseerders – wat in die minderheid is – nog verder geïsoleer word,” volgens Kriel.

AfriForum moedig die publiek aan om hulle steun vir die stryd teen Malema se haatspraak te wys by www.stopmalema.co.za.

Soortgelyke plasings