|

Benoni-tak verf parkeerarea, herstel voertuie by Daveyton SAPD

Ten einde die gemeenskap beter te dien is dit nodig vir goeie samewerkingsverhoudings tussen verskeie rolspelers in die gemeenskap. Daarom het die AfriForum-tak in Benoni onlangs moue opgerol en gehelp om die padmerkers op die parkeerterrein van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se kantoor in Daveyton te verf. Dié tak het ook gehelp om van die stasie se voertuie te herstel.

Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand,  was daar heelwat voertuie wat nie tans gebruik kan word nie omdat dit herstelwerk gekort het. “Gelukkig is een van ons taklede ’n gekwalifiseerde motorwerktuigkundige en hy kon toe drie van die voertuie in ’n japtrap herstel. Die sukses van hierdie aksie kan toegeskryf word aan die tak en die plaaslike SAPD se toewyding om goeie samewerking te vestig om die gemeenskap te help.”

“Die AfriForum-tak is veral toegewy om ’n positiewe verskil te maak en ons kan dit net doen deur ’n hand van samewerking uit te steek. Wanneer ons saam werk en elkeen sy hulpbronne inspan om ’n verskil te maak dan is bykans enigiets moontlik,” sê Ferreira.

Ferreira bedank almal wat deelgeneem het aan hierdie aksie en moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by die tak en hul aksies om saam ’n verskil te maak in die gemeenskap. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting of skakel 084 976 1234.

Soortgelyke plasings