|

Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie: Heuning, braaigereedskap, tuindienste en dies meer vir die wen!

Jong aspirant entrepreneurs is nou ’n stappie nader om eendag vir hulself te werk en hul eie salaris te verdien. Dit volg nadat AfriForum se Besigheidsbytjiesspan op 8 Julie vanjaar se wenners van hul landswye aanlyn entrepreneurskompetisie vir laerskool- en hoërskoolleerders amptelik op Pretoria FM, ’n trotse mediavennoot van dié kompetisie, bekendgemaak het.

Elke inskrywing wat vanjaar ontvang is, was uniek en besonders. “Dit is wonderlik om te sien hoe innoverend, hardwerkend en entrepreneuries ons kinders is. Hulle is dapper om hulself daarbuite te sit met hul kreatiwiteit en die inskrywings word elke jaar net beter en beter. Die jong mense is ons toekomstige leiers en deur hulle talente op so manier uit te leef, is die toekoms voorwaar blink,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Hierdie jaar se wenners bied ’n verskeidenheid van produkte en dienste aan. Volgens Bräsler staan hierdie entrepreneurs se hande vir niks verkeerd nie – hulle is nie bang vir moue oprol en werk nie.

Hier is die 2024-wenners:

Grondslagfase (graad 1 tot 3):

Wenner: Linardo Richter (7 jaar oud in graad 1) van Rustenburg met sy onderneming Braailaaitie. Hy verkoop braaigereedskap.

Naaswenner: Elfriede en Paul Schutte (albei 8 jaar oud in graad 2) van Potchefstroom met hul onderneming Bielie-Bye. Hulle verkoop tuisgemaakte heuning.

Intersenfase (graad 4 tot 6):

Wenner: Daniel en Joshua du Plessis (albei 12 jaar oud in graad 6) van Springs met hul onderneming Biltong Tjommas. Hulle verkoop biltong.

Naaswenner: Richard Meyer (11 jaar oud in graad 5) van Ladismith met sy onderneming Wilde Geskenke. Hy verkoop handgemaakte kaartjies waarop sy eie kunswerke en natuurfoto’s, wat hy self geneem het, pronk.

Senior fase (graad 7 tot 9):

Wenner: Richard Maree (13 jaar oud in graad 7) van Orania met sy onderneming Tjoppie se Weltevreden Tuindienste. Hy het sy eie tuindienste.

Naaswenner: Albie Botha (12 jaar oud in graad 7) van Secunda met sy onderneming Vita Nova Small Business Group. Hy verkoop vrugte en avokadopere en teel ook met honde.

VOO-fase (graad 10 tot 12):

Wenner: Reon (15 jaar oud in graad 9) en Elandri Coetzee (16 jaar oud in graad 10) van Pretoria met hul onderneming Brandbos Vuuraanstekers. Hulle verkoop handgemaakte vuuraanstekers.

Naaswenner: Desiree Maree (15 jaar oud in graad 10) van Orania met haar onderneming Desiree Naald en Garing. Sy herstel kledingstukke en ontwerp en maak nuwe klere.

Die publiek het tussen 21 Junie en 1 Julie die geleentheid gekry om vir hul gunstelingentrepreneur te stem. Publieke stemme tel 50 % van die totale punt. Die deelnemers se sakeondernemings is op  5 Julie deur ’n groep kenners beoordeel wat dan die wenners van die vier kategorieë bepaal. Die beoordelaars se beoordeling maak die ander 50% op.

“Hierdie entrepreneursukses bewys dat Suid-Afrika ’n land met soveel geleenthede is. Ons is trotse Suid-Afrikaners wat saam met soveel ander wil bou aan ’n mooi toekoms hier in ons sonskynland. Hier waar ons geplant is, wil ons groei en blom. Baie dankie aan elkeen wat saam met ons dink, droom en werk,” sê die Coetzee-sibbe, eienaars van Brandbos Vuuraanstekers en vanjaar se VOO-fase wenners.

Richard Meyer, eienaar van WildeGeskenke en vanjaar se naaswenner van die intersenfase, sê hy is baie dankbaar dat sy ma hom aangemoedig het om nog ’n keer vir dié entrepreneurkompetisie in te skryf. “My prysgeld bring my nou nog nader aan my spaardoelwit – ’n nuwe kamera sodat ek nog beter foto’s van die natuur kan neem,” sê dié jongman.

AfriForum het reeds in 2019 die Besigheidsbytjies-kompetisie vir laerskoolleerders begin. Die kompetisie is intussen uitgebrei deur ook voorsiening te maak vir hoërskoolleerders met ’n passie en kop vir sake.

“Nadat AfriForum Sakenetwerk in 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie vir volwassenes begin het, het ons gesien dat daar ook kinders is wat graag wil deelneem om hul entrepreneursvaardighede ten toon te stel. Dit is die vyfde jaar wat ons die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aanbied. Dis verblydend om te sien hoe die kwaliteit van die inskrywings jaarliks verbeter en dat kinders ook raaksien hoe belangrik ondernemings vir die ekonomie van Suid-Afrika is,” meen Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

Vir meer inligting oor AfriForum se Besigheidsbytjies- en Juniorpreneursinisiatief, besoek www.besigheidsbytjies.co.za.

Soortgelyke plasings