|

Driekuns vir Phalaborwa-tak wat oor langnaweek teruggee aan dorp

Die afgelope naweek het AfriForum se Phalaborwa-tak behoorlik ’n driekuns behaal en terwyl die land in Desember se gebruiklike feestelike luim begin kom het, moue opgerol en met drie afsonderlike aksies teruggegee aan die dorp en sy mense.

Die naweek is Vrydag (15 Desember) afgeskop met ’n skoonmaakaksie in Grosvenorstraat. Volgens Neill Kelder, ondervoorsitter van AfriForum se Phalaborwa-tak, was sypaadjies in dié straat erg oorgroei. Selfs die Grosvenorstraat-bushalte was so erg oorgroei dat dit onbruikbaar vir pendelaars was. AfriForum het die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit reeds in September vanjaar genader en versoek dat die sypaadjies en oop velde in die dorp skoongesny moet word. Die munisipaliteit het egter geweier, waarna die Phalaborwa-tak besluit het om self in te spring en Grosvenorstraat se sypaadjies skoon te sny. Hierdie skoonmaakaksie vorm deel van die tak se poging om Phalaborwa skoner, netjieser en veiliger te maak én te hou.

Toe ’n reuseboom boonop Saterdag (16 Desember) op die hoek van Tulbach- en Blue Cranestraat omval en die verkeersvloei van Tulbachstraat belemmer, het die tak sowel as lede van die Phalaborwa Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) weer skouer aan die wiel gesit en die boom in ’n japtrap verwyder.

Die Phalaborwa-tak se naweek het uiteindelik Sondag (17 Desember) op ’n hoogtepunt geëindig met ’n familiebraaidag wat vir die bejaarde inwoners en hul familie by die Bouganville-versorgingsentrum aangebied is. “Hiermee gee ons ook terug aan die ‘pioniers’ van Phalaborwa,” verduidelik Kelder.

“Drie dae, drie aksies – dit is voorwaar ’n driekuns vir hierdie tak. Dit beklemtoon watter krag opgesluit is in ’n gemeenskap wat self inspring en doen,” beklemtoon Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Waterberg.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Phalaborwa-tak. Stuur ’n e-pos stuur na hendrik.kotze@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings