|

Beskuldigde in Pienaar-moord se borg afgekeur

Die Mokopane-landdroshof het Tsholofelo Joseph Motsoane se borgaansoek vandag van die hand gewys. Volgens dié hof is Motsoane ’n beroepsmisdadiger en sal hy waarskynlik wéér oortree. Motsoane word beskuldig van die moord op die welbekende prokureur Schalk Pienaar in 2022. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die Pienaar-gesin in hierdie saak en het Pienaar se weduwee, Fransie, en dogter, Bardien, in die hof ondersteun vandag.

Klagtes van moord, sameswering om moord te pleeg, en ander vuurwapenverwante klagtes staar die beskuldigde in die gesig. Daar word ook beweer dat Motsoane die ontsnappingsvoertuig bestuur het. Die Pienaar-gesin het die eenheid verlede jaar om hulp genader ná talle vertragings om die saak af te handel. ’n Verhoordatum is uiteindelik vasgestel.

In sy uitspraak het landdros JJ Venter verwys na Motsoane se uitgebreide kriminele rekord sedert 2003 en dat hy reeds in verskeie sake skuldig bevind is en vonnisse uitgedien het – waaronder vir poging tot moord, roof en diefstal. Hy is ook skuldig bevind aan ontsnapping terwyl hy verhoorafwagtend was in twee van hierdie sake.

Venter het verder bevind dat Motsoane daarin misluk het om die hof te oortuig dat uitsonderlike omstandighede sy vrylating op borg regverdig. Die landdros het speurkaptein Ross Rossouw geloof vir sy deeglike beëdigde verklaring en gesê dat dit een van die beste verklarings teen ’n borgaansoek was wat hy al in sy loopbaan gelees het. Die beskuldigde het net in die beskuldigdebank gestaan en met ’n leë uitdrukking na Venter gestaar deur die loop van die uurlange uitspraak.

Pienaar is op 19 September 2022 in die oprit van sy huis vermoor – hy is tien keer geskiet. Motsoane is in Oktober 2022  gearresteer in verband met dié moord. ’n Tweede  verdagte is ook gearresteer maar die klagtes teen hom is laat vaar. Pienaar se moord was na bewering ’n sluipmoord, maar die motief is nie in die hof voorgelê nie.

Ná die uitspraak het Fransie Pienaar gesê sy is verlig dat Motsoane se borg afgekeur is.

“Dit is moeilik om deur hierdie verrigtinge te moet sit en daardie nag te herleef toe Schalk vermoor is. Dis moeilik om te aanvaar dat die man, wat deur die hof as ’n beroepsmisdadiger bestempel is, nié agter tralies was nie en kon voortgaan om misdade te pleeg. Schalk het in geregtigheid en in die strafregstelsel geglo. Ons gaan nou fokus op die hofsaak wat later vanjaar gaan plaasvind. Ek is dankbaar vir die ondersteuning van AfriForum se kant af,” sê sy.

Barry Bateman, woordvoerder vir die eenheid, verwelkom die uitspraak. “Die landdros het al die bewyse rondom Motsoane se kriminele rekord behoorlik in ag geneem. Maar belangriker nog, hy het bevind dat die staat ’n redelike sterk saak het. Hy het verwys na bewyse wat gehelp het om Motsoane se voertuig op die toneel te plaas sowel as sy eie erkenning. Hoewel Motsoane sê dat sy erkenning onder dwang gemaak was, het dit nie die landdros oortuig nie,” sê Bateman.

Die verhoor is vir 22 tot 26 Julie in die Hooggeregshof in Polokwane op die rol geplaas.

Soortgelyke plasings