| |

Gemeenskap doen wéér regering se werk en verwyder sélf 1 623 ton waterslaai uit Vaalrivier

AfriForum het op 3 Februarie saam met verskeie ander organisasies, ondernemings en gemeenskapslede meer as 1 623 ton waterslaai uit die Vaalrivier verwyder. Dít terwyl die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing steeds ná byna ’n maand nog niks aan dié indringerplant gedoen het nie.

Ongeveer 50 vrywilligers het met hul hande die plante uit die water geskep en meer as 15 bote en jetski’s het die waterslaai na vier verskillende uithaalpunte gestoot. Sewe vragmotors het reggestaan om die waterslaai weg te ry en daar is elke uur vier vragte vol verwyder.

“Ons as gemeenskap is eintlik nou besig om werk te doen wat die regering se verantwoordelikheid is. Dit is vir ons duidelik dat die regering nie omgee vir ons skaarste hulpbron nie en eerder sal tyd bestee om vergaderings te hou as om daadwerklik iets aan die probleem te doen. Ons kan nie net in vergaderings sit terwyl die probleme daar buite vererger nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

Ondernemings en gemeenskapslede het al op 28 Januarie begin om waterslaai uit te haal – 70 ton is tóé verwyder. “Ons sal aanhou met dié projek totdat ons rivier skoon is. Mense skenk fondse wat gebruik sal word om te kyk na volhoubare oplossings om die Vaalrivier te red. Dit help nie om die regering, wat reeds op verskeie vlakke misluk het, te vra om in te gryp voor ons ekostelsel verder beskadig word nie,” sê Grobbelaar voorts.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, was dié aksie ’n uitstekende voorbeeld van die sukses wat behaal kan word en die verskil wat mense kan maak as hulle saam werk. “Die gemeenskap stel vir ons ’n goeie voorbeeld van wat ons kan behaal as ons saamwerk. As dit nie vir die vinnige optrede en bereidwilligheid van die gemeenskap was nie, sou die rivier al baie erger gelyk het en kon dit maklik ontaard het in iets soortgelyk aan die hiasinte-krisis in die Hartbeespoortdam.” 

Lede van die publiek, ondernemings en organisasies wat wil betrokke raak by dié projek kan ’n donasie maak wat sal help om hierdie projek te befonds.

Die besonderhede is as volg:

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 623 4989 8398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 261-550

Verwysing: Vaalrivier

Soortgelyke plasings