|

Beskuldigde in verkragtingsaak se skuld “afdoende bewys sonder enige twyfel” – Advokaat Gerrie Nel

’n Onlangse baanbrekersuitspraak wat die vereistes vir toestemming tot seksuele omgang duidelik uiteensit, was die strekking van die betoog dat Isaac Andile Memese aan verkragting skuldig bevind moet word. Memese het Vrydag in die Somerset-Oos-landdroshof verskyn waar AfriForum se privaatvervolgingseenheid sy slotbetoog gelewer het. Die eenheid verteenwoordig Celeste Gouws wat die eenheid genader het nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) geweier het om Memese te vervolg, ondanks afdoende bewyse teen hom.

“Verkragting is ’n absolute veragtelike, selfsugtige en aaklige misdaad. Dit baat die oortreder niks buiten vlietende bevrediging nie, en tog dien dit blywende emosionele trauma en dikwels fisieke letsels aan die slagoffer toe,” sê advokaat Gerrie Nel, wat die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak in die Coko-saak, wat hy as briljant beskryf, aanhaal.

Memese het Gouws na bewering op 2 September 2017 by haar gastehuis verkrag. Kringtelevisiebeeldmateriaal wat as kritieke bewys in die hof aangebied is, toon hoe Memese en Gouws etlike ure lank alkoholiese drankies gedrink het. Sy het egter ’n vriend gevra om na die huis te kom omdat sy agterdogtig geraak het oor Memese se gedrag. In ’n stadium kom Memese met ’n glas wyn uit die badkamer en ruil dit om met Gouws s’n. Haar nugterheid is daarna merkbaar aangetas. Die vervolging het geargumenteer dat Memese haar drankie gedokter het.

Later kan gesien word hoe Memese die huis saam met Gouws se vriend verlaat, maar kort daarna terugkeer. Die kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe Memese die swaar bedwelmde Gouws van die kombuis na die slaapkamer lei, waar hy haar na bewering verkrag het.

Nel het betoog dat Memese se verdediging nooit Gouws se nugterheid bevraagteken het nie. “Vir sover as wat toestemming betref, het die Hoogste Hof van Appèl bevind dat toestemming gedefinieer kan word as die vrywillige en ongedwonge ooreenkoms om penetrerende seks te hê. Toestemming word nie in ag geneem as die klaer se bewussyn aangetas is nie, insluitend aantasting weens enige medisyne, dwelm of alkohol. Dit word uitgesluit. Dit bestaan nie. Daar is geen kans daarvoor nie. Ons sê die hof is verplig om te aanvaar dat die beskuldigde geweet het het dat Gouws ernstig bedwelm is en nie in staat was om toestemming te gee of in te stem tot penetrerende seks nie.”

Nel het ook betoog dat Memese se besluit om nie te getuig nie beteken dat die hof nie sy weergawe van gebeure kan oorweeg nie. “Die beskuldigde het dit gedoen ten spyte van sy verweer dat hy met die klaagster se toestemming seksuele omgang gehad het en dus versuim het om enige getuienis onder eed te lewer wat sy verweer van toestemming kan staaf. Daar is geen getuienis voor hierdie hof wat aandui wanneer, waar en hoe hy toestemming bekom het nie.”

Nel het weer die Coko-uitspraak aangehaal en die hof daaraan herinner dat Gouws se buurvrou gehoor het hoe ’n vrou op die nag van die beweerde verkragting aan iemand geskree het “hou asseblief op”. “As daar toestemming vir penetrerende seks is en dié toestemming word tydens die penetrerende seks onttrek, maar daar word voortgegaan, is dit verkragting. Dit is wat die hof gesê het. As ’n deelnemer of iemand betrokke in penetrerende seks sê ‘stop’, moet dadelik gestop word. Indien die ander persoon versuim om dit te doen, is daardie persoon skuldig aan verkragting.”

Gedurende Mike Maseti, advokaat vir die verdediging, se betoog het hy nie die kritieke vraag van toestemming gepak nie, maar eerder aangevoer dat daar met die beeldmateriaal gepeuter is, ’n bewering wat nie deur sy eie deskundige getuienis ondersteun is nie; dat dit toon hoe Gouws flankeer en alkoholiese drankies saam met Memese drink; en dat die strafregtelike saak in werklikheid deur een van Gouws se vriende bewimpel is.

Nel het afgesluit deur die privaatvervolgingseenheid se getuies Gavin Donnally, Marita de Lange en Dafrey Trotskie te beskryf as gemeenskapshelde vir hul steun aan die slagoffer en hul besluit om in die saak te getuig. “Dit is een van daardie seldsame geleenthede in ’n aanklaer se loopbaan waar die betoog nie is dat die vervolging ’n saak bo redelike twyfel bewys het nie, maar waar die beskuldigde se skuld onweerlegbaar sonder enige twyfel bewys is.”

Barry Bateman, woordvoerder vir die eenheid, sê “ten spyte van al die beskikbare bewyse het die NVG besluit om nie te vervolg nie, en aangevoer dat Memese ‘’n geleentheid gesien het en dit benut het’.” 

Die saak is uitgestel tot 26 November wanneer uitspraak gelewer sal word.

Soortgelyke plasings