|

Inwoners moet self kan besluit oor vullisverwydering

AfriForum het ’n formele versoek gerig aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om ’n nuwe konsepbywet te oorweeg, wat AfriForum sal help skryf. Hierdie konsepwet sal aan inwoners die vryheid gee om te kies tussen die bestaande vullisverwyderingsdienste van die metro en ’n privaat maatskappy se dienste.

AfriForum en die Tshwane-metro is reeds besig met belowende gesprekke oor breër samewerking binne die metroraad asook hoe die gemeenskap ’n groter rol kan speel binne die metro – die vullisverwyderingsplan is deel van AfriForum se voorstelle. 

Hierdie versoek kom as gevolg van die onwettige staking wat onlangs die vullisverwyderingsdienste in die Tshwane-metro ontwrig het. Dit het die noodsaaklikheid van ’n alternatiewe benadering tot vullisverwydering beklemtoon.

“Die kern van ons versoek is die erkenning van inwoners se keuse om self te besluit oor die vullisverwyderingsdienste wat die beste aan hul behoeftes gaan voldoen. Inwoners moet die opsie hê om te kies of hulle die Tshwane-metro se dienste wil gebruik of eerder gebruik wil maak van ’n privaat vullisverwyderingsmaatskappy,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

AfriForum besef hoe belangrik effektiewe vullisverwydering in die metrogebied is en sien dit as ’n geleentheid vir inwoners om aktief betrokke te raak by die proses. Die voorgestelde konsepbywet sal streng gereguleer word om te verseker dat beide die Tshwane-metro en privaat vullisverwyderingsmaatskappye aan vasgestelde standaarde en regulasies voldoen. 

“AfriForum het juis die afgelope naweek, 19 Augustus, van privaat kontrakteurs gebruik gemaak om vullisverwyderingsdienste in ’n deel van Pretoria te behartig omdat die Tshwane-metro weens die onwettige staking nie in staat was om die diens te lewer nie. Die gemeenskap is bereid om te betaal vir hierdie dienste mits dit betroubaar gelewer kan word,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

“AfriForum het vertroue in die leierskap van die burgemeester van die Tshwane-metro en ons sien uit na ’n konstruktiewe gesprek oor hierdie voorstel,” sluit De Klerk af.

Die voorgestelde konsepbywet sal gebaseer wees op die volgende beginsels:

  1. Die opsie van inwoners om ’n keuse te hê in vullisverwyderingsdienste.
  2. Onderskeidende regulering om die hoë gehalte en doeltreffendheid van beide die Tshwane-metro en private dienste te verseker.
  3. Die oprigting van ’n onafhanklike reguleringseenheid om toepaslike standaarde en oorsig te handhaaf.

Die volledige konsepbywet sal aan die Tshwane-metro gegee word vir oorweging en opvolg gesprekke.

Soortgelyke plasings