|

AfriForum oorhandig memorandum aan Durbanville-polisiekantoor

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 19 September ’n memorandum aan die Durbanville-polisiekantoor oorhandig.

In die memorandum word daar na dié polisiekantoor se sigbaarheid en diens verwys wat besig is om agteruit te gaan. AfriForum het menigte klagtes van die publiek ontvang dat klagtes nie geopen word nie, en dat daar nie gereageer word as hulp versoek word nie. Dié tekort aan optrede reflekteer gevolglik gunstige statistieke aan die stasiebevelvoerder, terwyl die gemeenskap inderwaarheid onder swak tot geen diens gebuk gaan.

“As inwoners en ondernemingseienaars van die Durbanville-omgewing voel ons dat dit ons plig is om ons plaaslike polisiediens tot orde te roep en eis daarom ’n publieke vergadering met die nuwe stasiebevelvoerder,” sê Tommy van Zyl, verbonde aan AfriForum.

Verder het ’n vertroulike bron binne die polisiekantoor AfriForum ingelig dat, ten tye van hierdie brief, daar slegs twee funksionele diensvoertuie tot die stasie se beskikking is. Die area wat die stasie dek sluit ’n stedelike sowel as landelike gebied in, en is daarom ’n aanduiding van ’n ernstige tekort aan patrollievoertuie vir effektiewe dienslewering aan die gemeenskap.

AfriForum sal voortdurend druk op die Durbanville-polisiekantoor uitoefen en hulp aanbied wanneer dit gevra word. AfriForum weet dat geen gemeenskap in isolasie kan oorleef nie, maar dat die betrokkenheid en samewerking van die plaaslike polisie en die publiek vir ’n veilige en funksionerende gemeenskap noodsaaklik is.

AfriForum vertrou dat die stasiebevelvoerder tot die publieke vergadering sal instem, waar samewerking tussen bestaande veiligheidstrukture, wat AfriForum insluit, bespreek sal word.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak of -buurtwag betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan johan.crous@afriforum.co.za, of SMS “Durbanville ” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings