|

Bestuurder wat fietsryer vermoedelik doodry gaan vervolg word ná ingryping van privaatvervolgingseenheid

Die beskuldigde in die dood van die fietsryer Nino Oppel is deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedagvaar om op 13 April 2022 in die Krugersdorp Streekhof te verskyn. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans die Oppel-familie bystaan, omvattende vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng (DOV) geskryf het nadat die NVG aanvanklik aangedui het dat hulle nie vervolging gaan instel nie. Oppel het in 2018 deelgeneem aan die bekende Berge en Dale-fietswedren in Muldersdrift, Gauteng toe die beskuldigde hom klaarblyklik met sy voertuig getref en weggejaag het.

Die DOV het, in reaksie op die privaatvervolgingseenheid se vertoë, reeds in Augustus 2020 aangedui dat daar wel ’n prima facie-saak teen die beskuldigde bestaan en dat hy vervolg moet word. Desondanks het die hoofaanklaer vir die Wesrand eers vandeesweek aangedui dat die NVG wel vervolging gaan instel. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het daarom in Februarie vanjaar wéér ’n skrywe aan die DOV gerig waarin hulle versoek het dat ’n aanklaer vanuit sy kantoor aangestel word om die vervolging van die beskuldigde te behartig nadat dit geblyk het dat die vervolgingsproses onnodig sloer. Die NVG het aangedui dat hulle gereël het dat ’n ander ondersoekbeampte aangestel word om die saak te ondersoek.

“Ons verwelkom die feit dat die beskuldigde uiteindelik gedagvaar is om in die hof te verskyn en ons sal op 13 April in die hof wees om die Oppel-familie by te staan. Dit is egter skokkend dat ons soveel druk op die NVG moes uitoefen om hulle te dwing om bloot hul plig na te kom en die beskuldigde sonder vrees, begunstiging of vooroordeel te vervolg,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings