|

AfriForum se Malalane-buurtwag vind 270 liter gesteelde diesel terug

Die AfriForum-buurtwag in Malalane het op Maandag 7 Maart tydens ’n patrollie beslag gelê op 270 liter gesteelde diesel.

’n Lid van die buurtwag het saam met ’n reaksieoffisier van Nkomazi Security Solutions omstreeks 23:00 verdagte persone naby stilstaande trokke in die dorp gewaar. Die verdagte persone het onraad vermoed en gevlug, hulle is agternagesit  maar het ongelukkig weggekom.

Die patrollielede het ondersoek ingestel en dieselkanne by die trokke gevind, die SAPD is dadelik in kennis gestel en met behulp van die SAPD is addisionele dieselkanne in ’n nabygeleë veld gevind. Die diesel is uit die trokke gesteel. 

“Die buurtwag beskou hierdie as ’n groot sukses aangesien die waarde van die gesteelde diesel sowat R5 000 beloop. Ons leef in ’n moeilike ekonomiese klimaat en elke liter diesel is vir trokmaatskappye waardevol,” sê Alwin Carstens, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Malalane.

“Dit is verblydend om te sien dat veiligheidsrolspelers in die Malalane-gemeenskap saamwerk om misdadigers die gebied te ontsê, die samewerking tussen AfriForum se buurtwag, Nkomazi Security Solutions en die SAPD, is ’n goeie voorbeeld van hoe strukture op grondvlak gebruik kan word om veiligheid in ons gemeenskappe te bevorder,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Laeveld. 

AfriForum se Malalane-buurtwag nooi lede van die publiek uit om betrokke te raak by die buurtwag om sodoende ’n veiliger omgewing te skep.

Soortgelyke plasings