|

Bethal-tak se slaggatprojek verseker motoriste se veiligheid

AfriForum se Bethal-tak het op 27 Julie nog ’n twee dae lange slaggatprojek voltooi om die veiligheid van motoriste te verseker. Dié tak het besluit om op Kleijnhansstraat te fokus aangesien die pad al hoe gevaarliker word vir padgebruikers.

Tydens hierdie projek is 180 sakke teer gebruik om al die slaggate op te vul. Dit bring die getal sakke teer wat vir Julie gebruik is op 400 te staan. Met die 400 sakke teer is net drie straatblokke se strate herstel; die laaste 180 sakke teer was slegs genoeg vir die 200 meter tussen die N17-hoofweg en Malherbestraat.

Die Bethal-tak het dié straat in 2015 aangeneem en Frans Odendaal ’n inwoner van die straat en makelaar op die dorp, het die tak gereeld gehelp om fondse in te samel om die projek volhoubaar te maak. Vanjaar beloop die projek ongeveer R15 000. Na Odendaal se afsterwe het die inwoners en ondernemings in die straat besluit om die werk saam met die Bethal-tak voort te sit.

“Hierdie straat is waarlik ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe opstaan en sê genoeg is genoeg en self ’n plan maak,” sê Ingrid Human, voorsitter van die Bethal-tak.

“Ons bedank graag die Kukhona Group, Cedar Peak Spur Steak Ranch, N17 Takeaways en die inwoners, sonder julle sou hierdie projek nie moontlik gewees het nie. AfriForum se Bethal-tak sal aanhou veg teen die verval van ons dorp. Ons wil vanjaar weer meer as 2 000 sakkies teer gebruik om Bethal se slaggate soos die afgelope ses jaar op te vul,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Sluit aan by AfriForum se Bethal-tak en maak ’n verskil. Kontak Hennie Bekker by 084 905 6415.

Soortgelyke plasings