|

Upington-tak maak ’n verskil

AfriForum se Upington-tak het op 20 Julie in samewerking met die plaaslike raadslede, Bokkie Saal en Erica Strauss, vier stoptekens vervang. Stoptekens is onderskeidelik op die hoek van Hoop- en Bendstraat en die hoek van Skans- en Skuusstraat vervang. Die stoptekens se pale is in beton gegiet om te verseker dat dit stewig is. Daar is op hierdie areas gefokus omdat daar nie stoptekens was nie en ongelukke veroorsaak het.

Op 18 Julie het dié tak ’n sopkombuis in die Dakota- informele nedersetting gehou en 120 mans, vroue en kinders elk van ’n warm bakkie sop voorsien. Hulle het ook sopbestanddele soos wortels, uie, aartappels en maalvleis aan die Kalksloot Congress Church geskenk wat self ’n sopkombuis vir die gemeenskap gehou het.

Sowat 31 mense, bestaande uit lede van AfriForum se Upington-tak en werknemers van Rhino Security Services, het op 14 Julie aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem. ’n Nuwe radiobeheerkamer wat die tak met monitering gaan help, is ook by dié private sekuriteitsmaatskappy geïnstalleer. Die radiobeheerkamer se reikwydte strek oor ’n radius van 300 km en dit sluit Griekwastad, Pofadder, Kathu en die Botswanagrens in, wat in direkte kontak met die sekuriteitsmaatskappy se gewapende reaksiespan is.

Op 12 Julie het AfriForum se regspan ’n dringende aanmaning aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit gestuur oor die stank en riool wat by die Kalahari-winkelsentrum uitloop en 800 meter verder reguit in die Oranjerivier invloei.

“Dit is verstommend om te sien wat ’n gemeenskap wat wíl in ’n kwessie van ’n maand kan verrig. Ons sien daarna uit om nog soortgelyke projekte te loods en ’n daadwerklike verskil te maak,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap. 

Om by die Upington-tak betrokke te raak kontak Werner Strauss by 081 217 1752.

Soortgelyke plasings