|

Bethal-tak sit stryd teen slaggate voort

In ’n poging om Bethal se paaie weer rybaar te kry het die dorp se AfriForum-tak noodgedwonge honderde slaggate met ’n dolomietmengsel gevul. Hoewel dit slegs ’n tydelike oplossing is, word daar reeds planne gemaak om nóg soveel slaggate met teer te vul.

“Ons is genoop om vinnig op te tree weens die spoed waarteen paaie op die dorp agteruitgaan, maar AfriForum sal Bethal een slaggat op ’n slag verbeter,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Die tak het in die afgelope twee weke tien strate in Bethal geïdentifiseer wat deurtrek is van die slaggate. Honderde slaggate is in hierdie tyd in Van der Stel- en Hoëveldlaan, Malherbe-, Van Riebeeck-, Kleynhans-, Du Plooy-, Mark-, Buffel-, Blesbok- en Gemsbokstraat gevul.

NJP Transport en TCG Turnkey Civil Group het gehelp om die projek ’n sukses te maak deur verskeie vragte van die dolomietmengsel te skenk. TCG het ook ’n vragmotor en -bestuurder afgestaan om met die projek te help.

Nog slaggate gaan deur die loop van die jaar met teer gevul word. Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings