|

AfriForum verleen hulp aan Kareedouw-brandbestryders

Brandbestryders swoeg al sedert Saterdag, 10 Februarie, om veldbrande in Kareedouw in die Oos-Kaap onder beheer te bring. Die brandseisoen het die Kaapse provinsies vanjaar besonders hard getref en brandbestryders waag hul lewens om te verhoed dat dié brande verder versprei.

AfriForum het op 15 Februarie onder meer 100 isotoniese koeldranke, 400 bottels water, beskuit, koekies, sjokolade, oogdruppels, lipsalf en ander koeldranke ingesamel en aan die Sarah Baartman-Wes Brandbeskermingsvereniging geskenk.

Dit is onderskeidelik deur AfriForum se Uitenhage-tak, Winterberg-plaaswag en Walker Drive-buurtwag geskenk met verskeie ondernemings en individue wat ook bydraes gemaak het.

“Dit was werklik ongelooflik om te sien hoe vinnig ons tak- en buurtwag-lede gespring het om bydraes te maak om die brandbestryders te help. Dit wys die krag van gemeenskap en skep hoop om te weet dat ons nie net in sak en as gaan sit wanneer moeilike tye aanbreek nie, maar dat ons iets kan doen om te help,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Veldbrande is baie onvoorspelbaar en gevaarlik, boonop is dit ook ’n uitdaging om dié brande te blus. Brandbestryders kan maklik dehidreer en hul bloedsuiker val vinniger as gevolg van die beskermende kleredrag en hoë temperature. Dit gebeur ook dat hierdie brandbestryders vergeet om na hulself te kyk – soos om iets te eet of genoeg water te drink – omdat hulle daarop fokus om die brande te blus,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.

AfriForum het ’n gids beskikbaar wat wenke bied oor hoe om veilig te bly tydens die veldbrandseisoen.

Soortgelyke plasings