|

Bethal vanjaar nóg slaggate minder

AfriForum se Bethal-tak en die gemeenskap wat hy bedien streef na ’n dorp sonder slaggate en poog elke jaar om dié droom te verwesenlik. As sodanig het die tak verlede week (24 April) sy jaarlikse slaggatprojek afgeskop. Die tak het begin deur 200 sakke teer te gebruik om slaggate in Tsibitso Sibanyonistraat te vul. Die teer is deur lede van die Bethal-gemeenskap geborg.

“AfriForum vul elke jaar meer en meer slaggate. Verlede jaar het die tak in die spasie van ’n paar maande meer as 2 000 sakke teer gebruik om slaggate in die dorp te vul. Dit is meer as wat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit in ’n jaar gebruik het om die dorp se paaie te herstel. Dié munisipaliteit probeer egter nou ’n rat voor die gemeenskap se oë te draai hieroor. Bethal word al te lank verwaarloos, daarom neem AfriForum daadwerklike stappe om dié dorp te verbeter,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Die Bethal-tak beplan om vanjaar nóg meer slaggate te vul en projekte van stapel te stuur wat sal toesien dat die dorp se strate herstel word. Tsibitso Sibanyonistraat sal binnekort verder herstel word, waarna dele van Buffel- en Malherbestraat getakel word.

“Ons as inwoners kan nie bekostig dat ons dorp verder verval en verniel word nie. Nou is die tyd om betrokke te raak en op te staan teen swak dienslewering,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Diegene wat AfriForum in die Bethal-omgewing wil ondersteun kan www.wordlid.co.za besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings