|

Kyk: Bloemfontein skoner danksy AfriForum-takke

Deur Carina Bester

 

AfriForum se Bloemfontein-takke is van die begin van Oktober af fluks besig om hul woonbuurte op te knap en skoon te maak as deel van die burgerregteorganisasie se #VegEnBou-veldtog.

Die Fichardtpark-tak het die eerste week afgeskop deur spekbome aan die Rosenheim- en Fichardtpark-aftreeoord, asook aan President Brand Primêr te skenk en die tak het ook van dié bome by Hoërskool Fichardtpark geplant. AfriForum het ook ’n skoleveiligheidsoudit by dié skool gedoen om te verseker dat die skool die nodige veiligheidsmaatreëls in plek het.

Die tak het ook op 7 Oktober ’n maand se kruideniers aan Therapea Kids, ’n kinderhuis vir meisies, geskenk. Hulle het ook worsbroodjies vir die meisies gemaak en die middag saam met hulle en Med 24/7, LifeRosepark se mediese reaksiespan, AfriForum 911 reaksie- en mediese-eenheid, asook VR Security deurgebring. Dié privaat kinderhuis huisves tans 16 meisies en ontvang geen subsidie van staat. “Ons vertrou 100% op die Here en is totaal en al van donasies afhanklik. Die Here het die afgelope sewe jaar nog net voorsien. 2020 was vir almal ’n uitdaging. Ons is uit ons harte uit dankbaar vir die skenking en dat julle ons las ligter kom maak het,” sê Belinda van der Vlies, van Therapea Kids

Die onderskeie takke het ook grootskaalse skoonmaak-aksies van stapel gestuur om veiligheids- en gesondheidsrisiko’s uit die weg te ruim. Die Fichardtpark-tak het ’n groot deel van Curielaan skoongemaak en die lede het twee bakkievragte vullis opgetel en weggery. Die Uitsig-tak het ongeveer vier vullishouers (skips) se vullis en 60 swart sakke vol vullis in Memoriumweg opgetel. Dié tak het ook die gras met bossiekappers en ’n trekker gesny sodat die area weer mooi en netjies is. Die Rayton-Heuwelsig-tak het die gras in die veld in David Botha-singel begin sny en dié tak sal hulle projekte aanstaande week voorsit.

Die Hospitaalpark-tak het vandeesweek die sypaadjies in Pasteurrylaan langs die spruit skoongemaak deur vullis op te tel, doringtakke te snoei en die gras te sny. Rommel is ook uit die dreine verwyder.

Die verval binne die Mangaung-metro het die Bloemfontein-takke verder genoodsaak om self dienste aan inwoners te lewer. Die nege AfriForum-takke het daarom met volhoubare projekte begin om vullis te verwyder en om straatname te verf sodat die straatname weer duidelik sigbaar is.

“Die munisipaliteit versuim om basiese dienste soos vullisverwydering aan inwoners te lewer. AfriForum het daarom begin om self inwoners se vullis te verwyder. Ons moedig die gemeenskap aan om op AfriForum se webtuiste te registreer om van dié vullisverwyderingsdiens gebruik te maak,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Soortgelyke plasings