|

Bloemfonteiners woeker om historiese begraafplaas op te knap

Verskeie rolspelers in Bloemfontein is betrokke by die opknapping van die historiese Pres. Brand-begraafplaas in dié stad.

Die begraafplaas is geleë in Presidentlaan wat vroeër Rhodslaan was. In die begraafplaas is daar ’n Presidente-akker met die grafte van oudpresidente van die RSA, die familiekerkhof van pres. Brand, die familiekerkhof van pres. Reitz, asook van die oudste burgergrafte sedert die ontstaan van Bloemfontein in 1846.

Daar is ook ’n Joodse gemeenskapsafdeling, grafte van Engelse soldate en van vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog omgekom het.

Die Ou Presidensie Historiese Vereniging, waarvan Lambertus van Rensburg die voorsitter is, beywer hulle tans vir die opknapping van die familiekerkhof van pres. Brand en die restourasie van sy standbeeld wat in pres. Brandstraat, sowat 5 km van die begraafplaas af, staan.

Volgens Van Rensburg is ’n permit van die Provincial Heritage Resources Authority (PHRA) in die Vrystaat verkry vir die heroprigting van ’n heining om die pres. Brand familiekerkhof.

’n Skrywe is ook aan die stadsbestuurder van die Mangaung-metroraad gerig vir magtiging om pres. Brand se standbeeld te herstel.

Pres. Johannes Henricus Brand is op 6 Desember 1823 in die Kaap gebore en op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede. Hy was ’n Suid-Afrikaanse prokureur en politikus en die vierde staatspresident van die Oranje Vrystaat. Hy was met Catharina Fredrica Küchler getroud en die egpaar het agt seuns en drie dogters gehad.

Van Rensburg sê daar gaan nou kwotasies gekry word om die heining op te rig. Hy hoop dat dié projek volgende jaar afgehandel sal wees en dat die familiekerkhof in Julie ingewy kan word om saam te val met die president se afsterwe 120 jaar gelede.

Van Rensburg is positief dat hulle dit sal regkry. Pres. Brand het immers altyd gesê: “Alles sal regkom, as elkeen sy plig doen.”

Wat die res van die begraafplaas betref, word dit soos talle ander in die land nie deur die munisipaliteit in stand gehou nie. Baie grafstene is verniel, omgegooi of afgebreek. Die omstandighede is ook haglik omdat vandale en sluipslapers daar plak, rommel strooi en ’n veiligheidsrisiko inhou.

Dirk Venter, ’n weldoener van Bloemfontein, het wel die begraafplaas “aangeneem” en werk hard om dit skoon te hou.

Hy het vroeër met die AfriForum-tak geskakel waarna besluit is dat die tak sal betaal vir die oprigting van ’n palisade-heining van sowat 123 meter om die begraafplaas veiliger te maak. Die tak wag nou vir goedkeuring van die munisipaliteit wat ’n kontrakteur moet aanstel om die heining op te rig.

Venter is baie passievol oor die begraafplaas en hoop dat AfriForum-lede en die publiek sal bydra om te help dat van die grafte ook herstel kan word.

Venter kan gekontak word by dirkmarjon@gmail.com en Van Rensburg by vanrensburglbj@gmail.com

AfriForum is ook landwyd met ’n Rus in Vrede-veldtog besig waar begraafplase in dorpe opgeknap en skoongemaak word. AfriForum-takke in Rustenburg, Witrivier, Belfast, Phalaborwa, Standerton, Middelburg, Brakpan en Daniëlskuil het reeds met werk begin.

Soortgelyke plasings