|

Buurtwagte in Groter-Moot, Centurion en Bronkhorstspruit patrolleer N4-snelweg

Die AfriForum-buurtwagte in Pretoria, Centurion en Bronkhorstspruit het op 22 Oktober aan ’n massapatrollie op die N4-snelweg tussen Pretoria en Bronkhorstspruit deelgeneem. Dié buurtwagte is genoop om in te gryp nadat daar ’n toename in “spiking”, oftewel skerp voorwerpe wat oor die pad gegooi word, was.

Hierdie inisiatief vorm deel van die proaktiewe wyse waarop AfriForum se veiligheidstrukture misdaad benader en neutraliseer om ’n veiliger omgewing en paaie te verseker. Die lede van die betrokke AfriForum-buurtwagte het van Saterdagaand ongeveer 20:00 tot in die middernagtelike ure die N4 patrolleer.

“AfriForum sal voortgaan om inisiatiewe van dié aard van stapel te stuur om die kriminele elemente weg te dryf,” sê De Wet Ungerer, distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid.

“Ons neem deel aan patrollies soos hierdie om die paaie vir ons landsburgers veiliger te maak. Ons kan nie net toekyk hoe ons mense se lewens nag ná nag bedreig word nie,” sê Sampie Steinberg, distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord.

Sluit gerus met ’n maandelikse vrywillige bydrae aan deur ’n kort verifikasie op die gratis Telegram-boodskap-toepassing by https://t.me/AfriForumBuurtBot te doen of SMS “Jou Naam” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings