|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Ons Plek in Derdepoort

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 5 Oktober 2021 by Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek in Derdepoort besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery hok te slaan. Op hierdie manier kan veilige gemeenskappe verseker word, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke kind wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Dit is vir ons ook belangrik om hierdie praatjies by gemeenskapsentrums aan te bied,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons Plek in Derdepoort is ’n plek waar ons kinders kan kind wees, kan lag, die onderrig geniet wat hulle verdien, middagetes kry en die nodige ondersteuning ontvang. Gedurende die vakansietyd hou Elize Bezuidenhout, Ons Plek-bestuurder, en Luzanne Niemand, Ons Plek se assistent, die kinders lekker besig met ontwikkeling en heerlike aktiwiteite. Dit was vir ons so lekker om AfriForum se span by ons te verwelkom om met die kinders oor die teenboelieveldtog te gesels,” sê Chandré Oosthuizen, maatskaplikewerker van gemeenskapsentrums by Solidariteit Helpende Hand.

Boeliegedrag is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek waar daar ’n wanbalans mag voorkom. Afknouery is ’n wêreldwye probleem en Suid-Afrika is beslis geen uitsondering nie.

  • Volgens ’n Unesco-verslag word bykans 250 miljoen kinders en jongmense jaarliks wêreldwyd afgeknou.
  • 25% van Suid-Afrika se ouers beweer dat hul kind al ’n slagoffer van afknouery of boeliegedrag was.
  • In 2018 het ’n studie, waaraan ongeveer 21 000 mense van 28 verskillende lande deelgeneem het, bevind dat Suid-Afrika die hoogste syfer van kuberafknoueryvoorvalle het.
  • Meer as die helfte (54%) van Suid-Afrika se ouers weet dat ’n kind in hul gemeenskap kuberafknouery ervaar.

Stuur ’n e-pos na tania.scheepers@afriforum.co.za of leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings