|

Boomplantmaand: AfriForum se Malmesbury-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Malmesbury het op Vrydag 20 September in samewerking met Big Tree Growers-groothandelkwekery vier bome by die O.J. Erasmus NGK Primêre Skool in Kalbaskraal geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaand­projek. Die tak het op drie wildepruimbome en een witkareeboom besluit omdat dié bome inheems, gehard en waterwys is.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê De Jager.

AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig egter sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul spesifieke omgewing aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en AfriForum se Malmesbury-tak onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen De Jager.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n  groener toekoms. Stuur ’n e-pos na deon.dejager@afriforum.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings