|

Alfa-buurtwag help Wes-Kaapse brande blus én met arrestasies in Januarie

AfriForum se Alfa-buurtwag het in Januarie sy nuwe brandweerwa op die proef gestel en gehelp om die verwoestende brande in die Wes-Kaap te blus en sodoende gemeenskapslede en hul eiendom beskerm.

Sowat 25 000 ha het in die Kaapse Wynlande afgebrand, terwyl omtrent 6 000 ha tussen Pringlebaai en Bettiesbaai in die slag gebly het. Die brande in Wolseley het ook bykans 6 000 ha verwoes.

Lede van die Alfa-buurtwag, met Lourens Theron wat die voortou geneem het, het nie gehuiwer om in samewerking met die brandweer en ander rolspelers op enige moontlike manier hulp te verleen nie. Die Overstrand-tak het ook 300 individuele sakkies oogdruppels aan die brandweer geskenk om hulle te help om dié gevaarlike en allerbelangrike diens voort te sit.

Etlike strukture is verwoes, areas is ontruim en heelwat families het baie skade en verliese gelei, waaronder ’n familie wat hul huis, huisinhoud en voertuig in die brand verloor het terwyl die man op ’n ander plek besig was met brandbestryding. Alhoewel van die brande onder beheer gebring is, kan dit enige tyd weer opvlam en verdere verwoesting saai.

Die Alfa-buurtwag het in Januarie ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en privaat sekuriteitsmaatskappye gehelp om die gemeenskap teen misdaad te beveilig. Met behulp van dié buurtwag is daar sewe arrestasies gemaak waar daar op gesteelde goedere en gevaarlike wapens beslag gelê is.

“Ek is opreg dankbaar aan elke Alfa-buurtwaglid sowel as die plaaslike brandweer, brandvoorkomingsorganisasies, sekuriteitsmaatskappye en die publiek wat hul eie veiligheid tweede stel sodat hulle die gemeenskap kan veilig hou,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

AfriForum se Overstrand-tak en die Alfa-buurtwag speel ’n geweldige belangrike rol in die gemeenskap en die beveiliging daarvan. Die lede se patrollering en ondersteuning wat hul aan die SAPD, ander sekuriteitsmaatskappye en die munisipaliteit bied, maak daadwerklik ’n verskil aan die gemeenskap en dit gaan baie keer sonder enige erkenning of dank.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag aan te sluit. Stuur ’n e-pos na overstrand@afriforumtak.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings