|

AfriForum vergader met Maluti-A-Phofung-munisipaliteit, beraam planne om Harrismith reg te ruk

Die verval van Harrismith en maniere waarop dié agteruitgang gestuit kan word, was die kern van AfriForum se onlangse vergadering met Amos Goliath, waarnemende munisipale bestuurder van die Maluti-A-Phofung Plaaslike Munisipaliteit. Tydens dié vergadering wat Christa Ikking, AfriForum se koördineerder vir die Hooglandstreek, met Goliath aangevra het, is verskeie knaende probleme wat dié eens aanskoulike dorp lamlê, onder die loep geneem.

Volgens Ikking is die verval van paaie in en om Harrismith, voortdurende kragonderbrekings en stukkende verkeersligte enkele van die belangrikste probleme wat aan die munisipale bestuurder voorgelê is. Die gesprek was egter positief en daar is besluit dat die munisipaliteit en AfriForum hande gaan vat in die heropbou van dié dorp, verduidelik sy.

“Jare se verval en agteruitgang van Harrismith noodsaak nou samewerking tussen die munisipaliteit en die gemeenskap,” sê Ikking.

Intussen blyk dit dat die munisipaliteit se beloftes nie net by beloftes gaan bly nie. Direk na afloop van AfriForum en Goliath se vergadering, het Goliath op Ikking se versoek die plaaslike vullisterrein besoek om werkbare regrukplanne te bespreek.

“Die toestand van die terrein is haglik. Ingryping is nou dringend nodig en samewerking is die enigste wyse waarop die verval getakel sal kan word. Ek is seker dat daar nog vele gesprekke rakende die toestand van die dorp sal wees, maar is positief dat ons wel ons gemeenskaplike doel, tot voordeel van dié gemeenskap, kan bereik,” sluit Ikking af.

Goliath het self ook benadruk dat enigiets deur samewerking vermag kan word.

Soortgelyke plasings