|

AfriForum nader Eskom wat Tshwane-metro se krag wil sny

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan Eskom gestuur waarin die organisasie versoek dat Eskom alternatiewe ondersoek om gelde vanaf die Tshwane-metro in te vorder eerder as om die krag af te sny.

Dit volg ná Eskom vandag ’n kennisgewing uitgereik het waarin die kragmaatskappy dreig om die Tshwane-metro se krag af te sny as gevolg van die metro se versuim om hul ooreenkoms met Eskom na te kom en hul maandelikse betaling te maak.

Die metro het ’n agterstallige rekening van R1.6 miljard waarvan R68 miljoen reeds aan Eskom betaal is.

Hoewel AfriForum verstaan dat daar ’n ooreenkoms tussen Eskom en die Tshwane-metro is vir die betaling van hierdie rekening sal dit drastiese gevolge inhou vir die inwoners van Pretoria, wat wel elke maand getrou hul rekeninge betaal, indien die krag afgeskakel word.

“’n Geskil tussen staatsorgane is nie veronderstel om gemeenskappe skade te berokken nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid. “AfriForum sal alle moontlike pogings aanwend om met Eskom en die Tshwane-metro in gesprek te tree oor moontlike alternatiewe wat nie die getroue belastingbetaler in die donker gaan laat nie.”

“Dit is onregverdig om inwoners, wat hul rekeninge aan die munisipaliteit betaal, te straf weens die Tshwane-metro se versuim om nie hulle betalingsooreenkoms met Eskom na te kom nie,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Raak vandag by ’n plaaslike AfriForum tak betrokke deur ’n epos te stuur na gemeenskapsake.navrae@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings