Centurion-tak loods kameraprojek

AfriForum se Centurion-tak het op 8 Junie hul heel eerste LPR-kamera in Centurion opgerig. Dié kamera herken nommerplate deur kruisverwysings van sowel ’n plaaslike as internasionale databasis. Hierdie kamera is opgerig as deel van hul doelwit om die Centurion-gemeenskap veiliger te hou.

Die Centurion-tak is al vir ’n geruime tyd besig met die kameraprojek en is dankbaar om fase 1 van stapel te stuur. Hierdie projek is uiters belangrik vir ons gemeenskap en dit is net een van vele maniere waarop AfriForum-buurtwagte misdaad help bekamp.

“Dit is vir dié tak van kardinale belang om sy gemeenskappe veilig te hou. Hierdie kameraprojek dra by tot die bestaande hulpbronne wat die tak gebruik om hul doelwit van ’n veiliger omgewing te bereik,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid.

“Hierdie is maar net die begin, ons beplan soortgelyke projekte vir die toekoms. Ek wil graag ook die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by inisiatiewe soos hierdie,” sluit Ungerer af.

Sluit gerus met ’n maandelikse vrywillige bydrae aan deur ’n kort verifikasie op die gratis Telegram-boodskap-toepassing te doen, klik hier, of stuur ’n e-pos na centurion@afriforumtak.co.za om betrokke te raak. Die Centurion-tak gebruik hierdie toepassing vir die organisering, bestuur en beplanning van die tak.

Soortgelyke plasings