AfriForum en 145 sakkies teer speel klaar met bielie van ’n slaggat in Trichardt

Motoriste wat die paaie in die omgewing van Trichardt in Mpumalanga ry, kén slaggate. Daar is kleintjies en grotes. Dié wat motoriste onkant vang en ook die grotes wat al ’n myl ver sigbaar is. AfriForum se Teks-tak (wat die gemeenskappe van Trichardt, Evander, Kinross en Secunda bedien) het in November ’n stokkie gesteek vir dié grootskaalse verval van paaie in Trichardt en ’n groot slaggatprojek hier aangepak.

Talle slaggate is suksesvol herstel. Een van dié slaggate was egter ’n bielie van ’n gat en die opvul daarvan het ’n volle 145 sakkies teer in beslag geneem. Oor ’n tydperk van twee dae is ’n totaal van 390 sakkies teer en 2 m2 doleriet ingespan om herstelwerk aan verskeie strate in Trichardt te doen. Die doleriet word gebruik as basis in die herstel van die slaggate waarna nuwe teer gelê word.

Volgens Jan du Plessis, voorsitter van die Teks-tak, is hierdie slaggatprojek in samewerking met verskeie plaaslike besighede aangepak. Dié besighede het bystand verleen deur middel van onder meer die skenking van materiaal, die beskikbaarstelling van toerusting en die vervoer van die teer.

“Ons gemeenskap kan dit nie bekostig om langer agteroor te sit en toe te kyk hoe alles verval nie. Ons sal dit self moet herstel en die munisipaliteite wys dat ons nie meer van hulle afhanklik kan wees nie,” beklemtoon Du Plessis.

Die gemeenskap word versoek om AfriForum in die Teks-omgewing te ondersteun. Besoek gerus www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings