|

Potchefstroom-tak toets vir cholera

AfriForum se Potchefstroom-tak het op 8 Junie watermonsters geneem om vas te stel of daar nie cholera teenwoordig is in die spruite en riviere van die dorp nie. Daar is op drie verskillende plekke monsters geneem om by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets te word. Dié areas sluit in: Bothastraat – waar ontdek is dat daar ’n pyp is wat rouriool direk in die spruit inpomp, Mooirivier wat onder deur die Mooirivier-winkelsentrum vloei en by Gimmies se Gat.

Hoewel daar nie op een van hierdie plekke tekens van cholera gevind is nie, is daar egter by al drie plekke tekens wat dui op E.coli en fekale kolivorme gevind. Dit beteken dat daar rouriool in die rivier is wat ander siektes as cholera kan veroorsaak.

“Ons maan inwoners van Potchefstroom aan om nie water uit die rivier te gebruik nie en as dit noodsaaklik is, moet die water eers gekook word. Inwoners moet ook nie in die water swem nie. Verder is dit raadsaam om diere weg te hou van die rivier en spruite af,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die Potchefstroom-tak sal met die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit in gesprek tree, veral oor die doelbewuste storting by Bothastraat.

“Die swak bestuur en onbevoegdheid van munisipaliteite is nou vinnig besig om hulle in te haal. Dit is egter hartverskeurend dat ons waterbronne, waarsonder nie mens of dier kan klaarkom nie, in die proses so besoedel word,” sê Pretorius.

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke en maak ’n verskil. Kontak Douglas Bourn by 083 232 1020.

Soortgelyke plasings