|

Regering spandeer R22 miljoen aan standbeelde terwyl strande toe is weens riool

Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit in KwaZulu-Natal het nagenoeg R22 miljoen spandeer om twee standbeelde op te rig terwyl strande steeds gesluit is omdat swak instandhouding van die infrastruktuur gelei het tot hoë vlakke E.coli in die water.

Dié standbeelde van Oliver Tambo en oud president  Nelson Mandela is in 2017 by China aangekoop. Dit terwyl Warner en Winkelspruit, twee van die 11 swemstrande in die eThekwini-metro, gesluit is weens hoë vlakke E.coli (hoër as 5 000 eenhede). Die strand in Amanzimtoti word ook van tyd tot gesluit as gevolg van rouriool wat in die see instroom.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal is die R22 miljoen wat op standbeelde gespandeer is ’n goeie voorbeeld van hoe die ANC, mense se belastinggeld vermors. “Om standbeelde op te rig terwyl mense nie water het nie en strande gesluit is oor rioolbesoedeling dui op die wanbesteding en onbevoegdheid van die ANC. Ons belastinggeld word aan onbenullighede bestee terwyl KwaZulu-Natal se vervalle infrastruktuur geen aandag kry nie en ons kusgebiede besoedel is.”

“Belastingbetalers moet die metro verantwoordelik hou vir die verkwiste fondse. Dit is ons gemeenskappe se geld wat hulle so mors terwyl ons in die riool verdrink en deur slaggate werk toe moet ry. AfriForum gaan druk op die plaaslike owerhede plaas om dié saak te ondersoek en ook klagtes by die plaaslike polisiestasie indien teen die munisipale bestuurder oor die rioolbesoedeling van ons strande indien dit nie opgelos word nie,” sluit Van Aswegen af.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om die petisie te teken en sodoende die saak te versterk. Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings