|

Coligny-hoofpad dié dorp se oogappel danksy AfriForum

AfriForum se Coligny-tak het in Julie bykans 400 km in die dorp afgelê om van Coligny ’n skoner dorp te maak. Ongeveer 40 bakkievragte vol rommel is weggery.

Gedurende die tak se volhoubare skoonmaakprojek word Voortrekkerstraat, Coligny se hoofpad, gereeld skoongevee, rommel word opgetel, die middelmannetjies word geskoffel en skoongemaak en vullis word weggery.

“Daar is ongelooflik baie uitdagings in Coligny, waaronder die netheid van die dorp. Daarom het ons as inwoners met die volhoubare projek begin om die hoofpad te onderhou en seker te maak dat dit weekliks gevee en rommel verwyder word. Ons dorp is ons trots en ons sal aanhou om hierdie projek te dryf,” sê Frans Gerber, ondervoorsitter van AfriForum se Coligny-tak.

“Coligny is ’n uitstekende voorbeeld van ’n klein gemeenskap wat baie omgee oor hul dorp. Hulle wag nie vir die munisipaliteit om hul werk te doen nie en spring self in om die werk te doen wat gedoen moet word. Die inwoners maak nie verskonings nie en gebruik hulle trots om hul dorp op te knap,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum wil graag ’n groter verskil in die dorp maak en moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak. Sluit vandag nog by AfriForum se Coligny-tak deur vir Tewie Pieters by 078 611 2214 te kontak.

Soortgelyke plasings