AfriForum eis antwoorde van die president en die Gautengse premier oor beloofde leefstyloudits van staatsamptenare

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan president Cyril Ramaphosa en die Gautengse premier David Makhura gestuur wat duidelikheid eis rakende die verloop van die leefstyloudits van senior staatsamptenare.

In Februarie 2018 het pres. Ramaphosa beloof dat leefstyloudits uitgevoer sou word op ministers en senior staatsamptenare, ’n belofte wat hy in Augustus 2020 herhaal het. Tog in Augustus 2022 is daar steeds geen teken van die uitslae van die leefstyloudits nie. Die publiek is steeds in die duister wanneer dit kom by die besonderhede van hulle vordering en wanneer dit afgehandel behoort te wees.

In Februarie 2022 het Ayanda Dlodlo, minister van Staatsdiens en Administrasie beweer dat die staat nog nie noemenswaardige vordering met die leefstyloudits van kabinetsministers en hul adjunkte gemaak het nie.

Sedert 2020 beweer die Gautengse premier, David Makhura, ook dat die leefstyloudits van Gauteng se uitvoerende leierskap onderweg is. By die bekendmaking van die Gauteng teenkorrupsieverslag in Mei 2022 het hy beweer dat die oudits en die uitslae binnekort beskikbaar sal wees. Volgens die 2022 teenkorrupsieverslag van Gauteng het die staatsveiligheidsagentskap (SSA) die leefstyloudits van die uitvoerende raad, soos deur die premier versoek, afgehandel en sal die resultate bekendgemaak word nadat die nodige konsultasies afgehandel is.Nou, meer as twee maande later, in Augustus 2022 het die publiek steeds niks van die oudits en die resultate gehoor nie.

AfriForum het daarom aan president Ramaphosa sowel as die premier van Gauteng David Makhura geskryf en eis:

  1. ’n Gedetailleerde uiteensetting van die verloop van die leefstyloudits van die ministers en die senior amptenare soos beloof.
  1. Die identifisering van ’n sperdatum vir wanneer dié resultate van die leefstyloudits afgehandel sal wees en bekendgemaak sal word.

“President Ramaphosa het in 2018 gesê dat hy eerder as swak gesien sal word as om die ANC in twee te skeur aangesien sy doelwit is om die ANC verenig te hou. Staan die leefstyloudits in die pad van dié missie? Is dit waarom ons nog nie enige resultate in die afgelope vier jaar gesien het nie? Die publiek het die reg om te weet,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir Strategie en Inhoud by AfriForum.

“In Gauteng wil dit voorkom asof dit dieselfde storie is, net ’n gepratery en beloftes, maar geen resultate of onthullings nie. Dit is nie hoe ’n party optree wat niks het om weg te steek nie. Dit wil voorkom asof die ANC glo dat die publiek die belofte van die leefstyloudits sal vergeet, maar hulle is verkeerd. Ongelukkig vir die ANC vergeet organisasies, soos AfriForum, nie en ons sal hulle aan hulle beloftes herinner,” sê van Zyl.

Indien AfriForum nie ’n gewenste reaksie ontvang nie, sal die organisasie hul regspan nader om die volgende stap te bepaal.

Soortgelyke plasings